Bronwyn Damon van Malmesbury vier die groot oomblik saam met medewenners en beoordelaars, onder wie die bekroonde Sandra Prinsloo.
Bronwyn Damon van Malmesbury vier die groot oomblik saam met medewenners en beoordelaars, onder wie die bekroonde Sandra Prinsloo.

Bronwyn Damon (19), ‘n matriekleerder aan Schoonspruit Sekondêr in Malmesbury, het onlangs ‘n studiebeurs losgeslaan nadat hy beoordelaars by vanjaar se Prosenium-dramakompetisie beïndruk het.

Die dramakompetisie, wat onlangs by die Kunstekaap-teater plaasgevind en jaarliks deur Tribuo aangebied word, gee hoërskoolleerders die kans om individueel op die verhoog, televisie en radio op te tree.

Heloïse Lotz van Northlink Kollege het dié studiebeurs om volgende jaar drama by hulle te kom studeer, gedurende die kompetisie se prysuitdeling aan Damon oorhandig.

TAAI KOMPETISIE

Damon het drie jaar gelede drama as vak begin neem en nooit weer teruggekyk nie. Sy drama-onderwyseres, Ymke van der Heijden, sê sy het Damon verlede jaar die eerste keer vir die dramakompetisie ingeskryf. Hy het toe tot die tweede ronde deurgedring en sy het besluit om hom weer in te skryf omdat hy verlede jaar so goed gevaar het.

Vanjaar het Damon gewys wat in hom steek en tot die eindronde deurgedring, wat hom van ‘n studiebeurs beloon het. “Dit was ‘n taai kompetisie. Vanjaar het byna ‘n duisend leerders vir die dramakompetisie ingeskryf en deelgeneem. Damon was een van 60 wat ná die eerste uitdunronde deurgedring het om verder te gaan.”

Damon het uiteindelik onder die beste 15 beland.

Van der Heijden beskryf hom as ‘n passievolle leerder met talle gawes. “Hy sing ongelooflik mooi, kan dans en het ‘n groot liefde vir die teater,” voeg sy by en vertel dat hy baie betrokke is by die gemeenskap en die bemagtiging van ander.

BINNEKORT OP DIE PLANKE

Volgens haar is Damon getrou aan sy skoolwerk – ‘n eienskap wat vanjaar veral ‘n rol gaan speel wanneer hy besig gaan wees om vir ‘n Woordfees-produksie tussen sy studies te repeteer.

Damon dien op die leerlingraad en is die tipiese voorbladseun wanneer dit kom by doelwitte wat hy wil bereik. Buiten die beurs om ná skool in ‘n tersiêre rigting te kan gaan studeer, is Damon eersdaags vir twee weke op pad Stellenbosch toe, gevolg deur drie maande se repetisies vir ‘n verhoogproduksie tydens vanjaar se Woordfees.

Damon meen die ervaring was ‘n “eye opener”. “Ek het baie goeie optredes gesien en was geïnspireer deur die raad wat ek van regisseurs en ander akteurs ontvang het.”

Hy was baie verbaas om sy naam te hoor, maar was ook baie verlig dat hy nou studiegeld vir sy ouers kan spaar.

Damon was van plan om onderwys te gaan studeer omdat dit nie noodwendig maklik is om ‘n deurbraak in die kunste te maak nie, hoewel drama sy eerste keuse sou wees.

PASSIE VIR DRAMA

Sy liefde vir drama het maar eers die laaste twee jaar behoorlik posgevat. Die saadjie is inderwaarheid reeds by die Laerskool Darling geplant toe hy drama as ‘n naskool-aktiwiteit geneem het danksy sy vriende wat hom aangemoedig het.

Hy het nie veel daarvan gedink nie, maar in sy graad-9-jaar by Vooruitsig Primêr was hy ná sy laerskooldae by Laerskool Darling oortuig om by die dramaklub as ‘n naskool-aktiwiteit aan te sluit omdat naskool-aktiwiteite verligtend was.

“Ons het net pret gehad en nie veel daarvan gedink nie.”

Heloïse Lotz van Northlink Kollege staan by Bronwyn Damon wat ‘n beurs losgeslaan het om volgende jaar drama by hulle te gaan studeer.

Dit was Mnr. Jansen van Voortuitsig Primêr wat drama in Damon aangewakker het toe hy vir hom ‘n monoloog gegee het om by die skool se kultuuraand op te tree.

Hy wou aanvanklik musiek neem toe hy by Schoonspruit aansluit, maar het nie die nodige ervaring gehad om daarmee voort te gaan. Drama was sy tweede keuse. “Daar het ek myself afgevra waar drama my hele lewe lank was,” skerts hy.

Volgens hom laat drama jou toe om in ander mense se skoene te staan en ander se omstandighede te beleef sodat jy beter kan verstaan waardeur hulle gaan.

DANKBAAR VIR ONDERSTEUNING

Damon beskryf die Woordfees-produksie as ongelooflik en was uit sy nate toe hy vir die rol gekies is. Hy hoop om eendag in talle produksies te wees, stemoorklankwerk te doen, op televisie te verskyn en selfs sy stem oor die radio te laat dreun.

Hy is ewig dankbaar aan Van der Heijden wat uit haar pad gegaan het om hom aan hierdie platform bloot te stel, wat uiteindelik ‘n studiebeurs beteken het. Hy bedank ook sy ouers wat bankvas agter hom staan, omdat drama nie ‘n goedkoop aktiwiteit is nie.

“As dit nie vir hulle was nie, sou ek nie hier gewees het nie.”

En laastens spreek Damon sy dankbaarheid teenoor die Hemelse Vader uit wat die geleentheid oor sy pad gebring het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article