Die Wesbank-biblioteek in Malmesbury het Donderdagoggend (4 Augustus) sy ma-en-kind-boekdeelprogram begin.
Die program fokus op kinders tussen drie en vyf jaar oud en wat nie deur die dag by ’n speelgroep of crèche is nie, maar by ’n ouer of versorger bly.
Isabel Young, hoofbibliotekaresse van al nege Swartland se biblioteke, sê die liefde vir leer en lees begin al op ’n jong ouderdom.
Swartland-biblioteekdienste het in 2021 die omgewing se eerste ma-en-kind-boekdeelprogram by die Chatsworth-biblioteek aangebied.
Young sê die programme het al by Malmesbury, Abbotsdale en Wesbank-biblioteke plaasgevind en Chatsworth beplan sy volgende sessie eersdaags.
Young glo kinders moet gereeld aan boeke blootgestel word.
“Om vir kinders op ’n jong ouderdom te lees en ’n inleiding te gee oor boeke, is baie belangrik, want dit help met die kind se taalontwikkeling en begripsvaardighede,” sê sy.
Volgens Young het elke week se sessie ’n tema en ’n aktiwiteitsboekie word uitgedeel.
“Die program behels dat die versorger en die kind ’n storie saam deel deur na prentjies te kyk en die woorde te lees. Dit moedig kinders aan om stories te interpreteer omdat hulle vrae oor die prente vra en kreatiewe maniere gebruik om interaksie te hê deur middel van sang, dans, kuns en kunsvlyt,” sê Young.
Die ma-en-kind-boekdeelprogram strek oor ’n tydperk van 12 weke.
“Weeklikse sessies duur ongeveer 60 tot 90 minute,” verduidelik sy.
“Hierdie program leer waardevolle vaardighede aan ouers oor vroeëkinderonderwys, en dit stel inwoners ook bekend aan die gratis hulpbronne en boeke wat by hul plaaslike biblioteek beskikbaar is,” sê Young.
“Omdat boeke duur is, sal dit altyd ’n luukse item bly vir baie,” sê sy.
Young sê die program kan ook gesien word as ’n plek waar die kind veilig voel.
“Ons leer die kinders wat dit beteken om uit die moeilikheid te bly deur gehoorsaam te wees en om aan ons aktiwiteite deel te neem,” deel Young.
Die Swartland-munisipaliteit se biblioteekdienste vervul ’n kritieke rol om ouers en primêre versorgers deur hul ma-en-kind-boekdeelprogram te bemagtig met die vaardighede en hulpbronne om kinders van kleins af ’n liefde vir boeke en lees te leer.
Aan die einde van die program ontvang die kinders en volwassenes sertifikate om te wys dat hulle die program voltooi het.
Hulle ontvang ook hul aktiwiteitsboekies, wat as riglyn vir ouers by die huis gebruik kan word om die aktiwiteite en vaardighede wat hulle tydens die program geleer is, te herhaal.
Die munisipaliteit beplan om hierdie program voort te sit en uit te brei na nog biblioteke in die Swartland-distrik en op hierdie manier by te dra tot die veiligheid en opvoeding van die toekomstige geslag.





