By die opening van Biblioteekweek was (van links) Anneline Lategan, Rochelle van der Horst, Talita Viola, Ilse Loock, Isabel Young, Sibongile Bokolo, Corien Syfert, Wilmore Williams (tekenaar), Divan Karools, Cecelia Larey, Madelaline Terblanche en Brian Dirkse. Foto: Charlotte Lesch


Die Swartland-munisipaliteit vier vandeesweek Biblioteekweek deur stories te vertel wat impak het.

Biblioteekweek word jaarliks in die derde week in Maart gevier, waartydens die streek se nege plaaslike biblioteke van die geleentheid gebruik maak om lede en inwoners nie net te vertel watter rol biblioteke in vandag se samelewing vervul nie, maar ook watter impak die biblioteke al op talle inwoners gehad het.

Die tema van vanjaar se Biblioteekweek is “Libraries telling powerful stories.”

“Biblioteke speel vandag ’n groot rol in die transformering en versterking van gemeenskappe en dit is ook wat ons in ons uitreikprojekte doen,” het Ilse Loock van die Swartland-munisipaliteit gedurende die onlangse bekendstelling van Biblioteekweek by Wesbank-biblioteek, gesê.

Libraries are known as the poor man’s university. Ons verskaf inligting, literatuur, verskillende programme en rekenaars waarop die publiek gratis kan werk en waar biblioteke vandag ’n groot rol vervul,” het sy vertel. “Biblioteke word vandag vir baie meer as net lees gebruik.”

Gaste by die geleentheid het verskillende impakstories gehoor oor inwoners vanuit die plaaslike gemeenskap wat uitgebrei het oor hoe die Wesbank-biblioteek ’n groot rol spesifiek in hul lewe vervul het.

Sibongile Bokolo, een van die gassprekers, het onder meer vertel hoe hy daagliks van ’n jong ouderdom af na die biblioteek gekom het om kennis in te win en te kom lees en as ’n plek te gebruik om sy rekenaarvaardighede te slyp. Hy is later deur een van die personeel genader wat gevra het of hy bereid sal wees om laerskoolleerders te fasiliteer en basiese rekenaarvaardighede te help aanleer.

“Ek het danksy dié geleentheid selfvertroue, stabiliteit en uiteindelik ’n werk gekry. Die biblioteek het my in myself laat glo,” het Bokolo bygevoeg.

Nóg ’n inwoner, beter bekend as Junior, het gaste kom vertel hoe hy as ’n klein seuntjie reeds die biblioteek kom besoek het en elke keer welkom laat voel is.

Junior is vandag ’n formidabele kulkunstenaar, wie se kulkuns gaste se oë behoorlik laat rek het.

Hy het gesê hy is die biblioteek “ewig dankbaar” toe hy tydens sy studies ’n plek van stilte aangebied is. “Ek het die hele saal vir myself gehad en waar ek in stilte kon leer omdat dit by die huis te veel geraas het.”

Vrolike Vinkies-bewaarskool het ook die geleentheid bygewoon en hul eie ervaring met die biblioteek gedeel, só ook Hailin Williams en die inwoners van Sinethemba Happy Hearts, asook Wilmore Williams, ’n plaaslike kunstenaar wie se kunswerke by die biblioteek uitgestal word.

Die Swartland se biblioteke vier daarom met trots Biblioteekweek waartydens nog baie impakstories vertel gaan word en wat moontlik ook die begin van nog baie lede se eie impakstories kan beteken.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article