Van links is twee werknemers van die Rooiberg Breederiver-bewarea, Jannuline le Wak en Franneley Reens, wat in die kwekery werk, en Carina du Toit-Becker, voorsitter van Conservation at Work of C@W.


Plaaslike bewaringspogings het onlangs opslae gemaak toe die bewaringsorganisasie Conservation at Work (C@W), ’n organisasies sonder winsoogmerk, die 2022- Cape Fox-prysuitdeling aangebied het om erkenning te gee aan grondeienaars en bewaringsorganisasies hul bydraes wat hulle tot omgewingsbewaring lewer.

Die geleentheid het op 26 Oktober by die Zevenwacht-wynlandgoed plaasgevind.

Die innoverende landskapbewaringstoekenning is aan die Rooiberg-Breederivier-bewarea, naby Robertson, wat in 2013 gestig is, toegeken.

Die prys is aan dié bewarea oorhandig danksy die goeiegehalte-bewaringsprojekte wat groot voordele vir die omgewing asook die werksmag van nabygeleë gemeenskappe inhou, sê die Rooiberg-Breederivier-bewarea se bewaringsbestuurder, Carina du Toit-Becker.

Du Toit-Becker sê een só projek is die stigting van ’n kwekery met die doel om die rivieroewers van die Breederivier te herstel deur “duisende bome en struike” te plant.

“Ander projekte sluit in bewusmakingsveldtogte wat op bewaringsonderwerpe sowel as volhoubare boerderypraktyke fokus, en inligtingsveldtogte om seldsame plantspesies te behou.”

Voorbeelde van hiérdie bewaringswenke sluit in die uitroei van indringerplante, asook die monitering van wild deur kamerastrikke.

Die Rooiberg-Breederivier-bewarea werk nou saam met plaaslike boere in die distrik om grondinstandhouding aan te moedig en die fauna en flora van die Rooiberg-gebied te bewaar, sê Du Toit-Becker.

Die naaswenner in dieselfde kategorie het na die Nuwejaarsrivier-vleiland as spesiale bestuursgebied gegaan.

Die Mossie Basson-bewaringslegende-toekenning is aan die Cape Leopard Trust vir hul bewaringswerk oorhandig.

Die beste ondersteunende bewaringsagentskap-toekenning, as deel van die Cape Fox-toekennings, is aan die Wêreldnatuurfonds (WWF) Suid-Afrika gegee, met die departement van landbou se LandCare-inisiatief wat die naaswenners was.

Die prys vir die beste individuele grondeienaar het gegaan aan die Boschendal-wynlandgoed (wenner) en Villiera Wines (naaswenner).

Die Bottelary Hills-Renosterveld-bewarea het die bewaringsbestuurdertoekenning ontvang, met Pietersfontein Bewarea as die naaswenner.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article