Die Swartland-munisipaliteit het ’n aansoek van Pioneer Foods ontvang om van beurtkrag uitgesluit te word.
Volgens ’n verklaring wat vandeesweek deur die Swartland-munisipaliteit uitgereik is, belemmer die voortdurende beurtkrag die produksie van noodsaaklike voedselprodukte, insluitend meel, en dit veroorsaak tekorte in die voedselketting, wat ’n uitwerking op nasionale voedselproduksie het.
Die munisipaliteit het dienooreenkomstig by Eskom aansoek gedoen om een van die lyne, wat die munisipaliteit van krag voorsien, van beurtkrag uit te sluit. Eskom het die versoek goedgekeur.
Die netwerk wat geraak word, voer die munisipale rioolwerke, Pioneer Foods (Sasko Meule) asook ’n aantal ander klante in die nywerheidsgebied, hoewel nie almal nie. “Die gevolg van die besluit is dat hierdie klante vir minstens die volgende twee maande nie meer beurtkrag gaan ondervind nie. Die ooreenkoms vereis egter dat dié klante se totale las op hierdie netwerk met tye met tot 20% verminder sal moet word vir solank as wat Eskom die verlaging verlang.
“Ons wil die inwoners en alle kragverbruikers die versekering gee dat die aansoek deur Eskom goedgekeur is met volle inagneming van al die vereistes soos verwag wat Nersa se spesifikasies betref,” lui die verklaring.
Die munisipaliteit sê die voordeel wat dit vir alle inwoners inhou, is dat die rioolwerke nou weer normaal kan werk.
Pioneer Foods (Sasko) sal ook genoeg meel kan maal om die vraag na meel en brood te bevredig.
“Ons vertrou dat die besluit in die belang van die gemeenskap is en dat u dit so sal verstaan en ondersteun.”



