In die studie is ontleed hoe mense hulle op sosiale media oor beurtkrag uitdruk en is hul reaksie gekategoriseer as onder meer woede, angs en hartseer.

Daar is ook kategorieë vir positiewe emosies.

Data van 13 tot 16 April verlede jaar en oor dieselfde tyd vanjaar is ontleed.

Die studie vorm deel van UJ se bruto nasionale geluk (BNG)-projek, wat mense se welstand meet.

Die studie toon dat Suid-Afrikaners se woede toeneem hoofsaaklik weens die kragprobleme en dat hulle magteloos voel tydens kragonderbrekings.

Verlede maand het hoë fases van beurtkrag gegeld.

Prof. Talita Greyling, ’n akademikus aan die UJ en die welstandsekonoom wat die BNG in 2019 ontwikkel het, sê beurtkrag is een van talle faktore wat bestudeer word.

Sy sê met byvoorbeeld Covid-19 was woede gewoonlik die eerste negatiewe emosie wat ’n mens kon waarneem.

“Vrees en hartseer gaan gewoonlik hand aan hand. Namate ’n probleem groter word, ontwikkel mense se woede in vrees en weersin.

“Mense sal uiting gee aan hul vrees dat hulle hul werk kan verloor en hulle vrees vir die toekoms van hul kinders omdat beurtkrag hulle van basiese dienste, soos lig om by te leer, ontneem.”

Volgens Greyling veroorsaak beurtkrag ’n “kettingreaksie”.

“Ons het nog nie in diepte na beurtkrag gaan kyk nie, maar ons meen dit is die rede vir baie van die land se ekonomiese uitdagings. Faktore soos die hoë inflasiekoers en swak rand het alles ’n invloed op die dagtake van die gemiddelde Suid-Afrikaner. Boonop kan hulle nie altyd dié take verrig nie omdat daar geen krag is nie.”

Die toename in mense se angs gedurende die navorsingstydperk word volgens Greyling toegeskryf aan wat beskou word as “die regering se onvermoë om die probleem op te los”.

Sy maan dat die land nie ’n sterk toename in negatiewe emosies kan bekostig nie.

“Dit is die laaste ding wat ons nou nodig het. Ongelukkig is die werklikheid wanneer mense se woede en frustrasie ’n sekere punt bereik, dit gewoonlik tot optrede lei. Dit is wanneer ’n mens onder meer burgerlike onrus en diensleweringsbetogings waarneem.”

Dit is belangrik om te onthou dat al hierdie emosies – woede, weersin, vrees, hartseer en ook geluk – te alle tye in ’n samelewing teenwoordig is, waarsku Greyling.

“Wat ons eintlik wil sien, is dat die positiewe emosies die negatiewe moet oortref. Dit gaan bepaal word deur die manier waarop ons as burgers na ’n probleem kyk.

“Dit word ook grootliks bepaal deur die manier waarop ’n probleem aan ons gekommunikeer word.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article