Die visie en missie van die Proteïennavorsingsstigting (PNS) is om Suid-Afrika selfvoorsienend te maak ten opsigte van die bron van proteïene vir dierevoer asook die doeltreffende en optimale gebruik van hierdie bron in die vorm van oliekoek.
In die Noorde van Suid-Afrika is soja die primêre bron van proteïen vir dierevoer in die vorm van soja-oliekoek. Die vestiging van die sojabedryf was en is ’n baie groot suksesverhaal. Tans is die land in ’n uitvoer-scenario vir soja, verduidelik Andries Theron van die Proteïen-navorsingstigting (PNS).
In die Wes-Kaap is dit egter nog nie die geval nie en groot hoeveelhede soja-oliekoek word nog ingevoer. Surplus soja-oliekoek uit die noorde kan tans nie winsgewend teen ingevoerde produkte meeding nie weens die vervoerkoste, veral weens die spoorweë wat lamgelê is. Hierdie invoer kan egter met groot sukses deur kanola-oliekoek vervang word en die kanolabedryf lewer ’n groot bydrae ten opsigte hiervan. “Daar is groot ruimte vir uitbreiding in die aanplanting van Kanola in die Wes-Kaap.”




