Dirkie Bester (36) van Moorreesburg het op 16 Februarie sy 200ste Parkrun voltooi, waarvan hy ’n allemintige 63 eerste plekke behaal het.

Sy beste tyd nog was 18 minute en 58 sekondes. Hy behou tans die rekord vir die meeste eerste plekke onder die weeklikse deelnemers by die Malmesbury Parkrun, en dit terwyl hy ’n atleet met spesiale behoeftes is.

Daar is egter geen keer aan dié kranige atleet, wat tans sy atletiekklub en streek in die Boland-landloopspan verteenwoordig, nie. Bester, ’n lid van die Swartland-atletiekklub, is slegs een van twee klublede wat die Boland-landloopspan gehaal het.

Hy het boonop op 16 September 2023 aan die SA-landloopkampioenskap in Gqeberha deelgeneem. Om daarvoor te kon kwalifiseer, moes hy aan ses wedlope van 8 km elk deelneem. Bester het ’n silwermedalje by die Boland-kampioenskap by die Dal Josafat-stadion losgehardloop, wat hom uiteindelik ’n plek in die Boland-landloopspan besorg het.

Dit is nie waar sy talente eindig nie. Dié Swartlander is ook steeds die 100 m- vlinderslagkampioen nadat hy in 2022 aan die Special Olympics South Africa-Somerspele in Polokwane deelgeneem het.

Verder ryg Bester die eerste plekke en goeie tye by verskeie marathon- en halfmarathon-wedlope in. Volgens sy ma, Lerine, oefen hy dubbel so hard as baie ander atlete om te presteer en sy tye te behou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article