Die wenners van vanjaar se koring- en kanolakompetisie, aangebied deur Agri Malmesbury se koringstudiegroep, was Dirk Lesch van die plaas Elim, Paul Truter van die plaas Papkuilsfontein en Johan Smuts van die plaas Kersfontein. Foto: Charlotte Lesch


“Die koringkamp wat kop en skouers bo die res uitgestaan het, was dié van Paul Truter.”

Só het Frans Snyman gedurende vanjaar se proewebesigtigingsdag, aangebied deur Agri Malmesbury se koringstudiegroep, bevestig toe die wenners van hul jaarlikse koring- en kanola-kompetisie aangewys was.

Die geleentheid het die afgelope Donderdag by die plaaslike landbousaal, na afloop van die proewebesigtigings, plaasgevind.

Truter, ’n plaaslike landbouprodusent van die plaas Papkuilsfontein, is met die wisseltrofee van Wes-Kaap Graanprodusente Beperk vir die beste koringkamp vereer.

Die naaswenner was Gert Claassen met Derick Becker in die derde plek.

Snyman het saam met Neels Welman van Wes-Kaap Graanprodusente Beperk die koringkampkompetisiewenners aangekondig.

Snyman was dit eens dat vanjaar ’n moeilik jaar vir koring was. “ ’n Jaar soos vanjaar was moeilik. Daar was kampe wat vroeg opgekom het en ander wat laat opgekom het,” het hy bygevoeg. Volgens hom is onder meer gekyk na die biomassas en aargetalle wat gemeet, geweeg en geknip is. Die gesondheid van die blare, onkruidbeheer en plantestand het ook ’n rol in hul beoordeling gespeel.

Die kompetisie vir die beste bruto marge op koring per hektaar is die Yara-wisseltrofee (MEO) vir die mees ekonomiese opbrengs. Die trofee het aan Dirk Lesch van Elim gegaan. Die naaswenner was Michiel Smuts.

Die Nitrophoska-wisseltrofee vir die beste bruto marge per hektaar vir wisselbou oor die laaste vier jaar is ook aan Lesch toegeken met Johan Smuts in tweede plek.

Johan Pyper van Soill en Piet Lombard van die Wes-Kaapse departement van landbou het op hul beurt die Soill-wisseltrofee vir die beste kanolakamp oorhandig.

Volgens Pyper is dit vanjaar geen geheim dat dit ’n nat jaar was nie. “Die reën het laat gekom. Die meeste van die kampe met groot hektare het met die voete in die water gestaan. Die kanola kan vashou tot op ’n tydstip, maar ons het vanjaar en weer vandag gesien kanola hou nie van nattigheid nie,” verduidelik hy. Hy sê koring hanteer nat toestande baie beter. “Ná twee maande in die water staan, het kanola in hektare weggeraak. Daar waar dit nie weggeraak het nie, is dit maar yl. Die onkruid het deurgedop en lande is vuil.” Pyper sê die beoordeling vanjaar was moeilik. “Nie een kamp het bankvas soos daardie lappieskomberse gelê nie. Ons het dit nie vanjaar gehad nie. Maar tog gaan ons iets kan afhaal – dit is nie alles verlore nie.” Volgens hom is gekyk na insekte, swamme, onkruid en eweredigheid. “Ons het basies gekyk na die kamp wat die meeste gelyk was en die plante wat gestoel het. Die meeste van die kanola het vanjaar knie­hoogte bereik en daar het die meeste kampe uitgeval. Drie kampe het egter uitgestaan, wat direk gekoppel kan word aan die biomassa en opbrengs­potensiaal wat die deurslag­gewende rol gespeel het.”

Die drie produsente wie se kanolakampe mooi uitgekom het, was Gert Claassen, Dirk Lesch en Johan Smuts. Smuts, van die plaas Kersfontein, het vanjaar met die Soill-wisseltrofee vir die beste kanolakamp weggestap.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article