Die Swartland-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, Harold Cleophas, het verlede week, op 28 Maart, die konsepbegroting vir die 2024-’25-boekjaar voorgelê.
Die konsepbegroting vir die volgende termyn verwys onder meer na groot kapitaalprojekte vir 2024-’25 én beplanning vir die komende drie boekjare.
Inwoners kry ook ’n blik op die nuwe tariefverhogings wat op 1 Julie geïmplimenteer sal word, hoewel die tariewe steeds onderhewig is aan die raad se finale goedkeuring.
Die kapitaalbegroting staan op ’n historiese R379 miljoen as gevolg van die 3 000 behuisingsgeleenthede wat binne die volgende drie jaar voorsien gaan word.
Cleophas het verskeie hoogtepunte op die gewone raadsvergadering uitgewys.
Grondwerk vir die nuwe swembad in Wesbank het reeds begin, terwyl konstruksie in die nuwe boekjaar sal geskied.
’n Bedrag van R80 miljoen sal toegeken word vir die bou van nuwe paaie oor die volgende drie jaar. Die prioriteitslys wat paaie betref sal aan die einde van April gefinaliseer word.
Kalbaskraal kry ’n veeldoelige sentrum teen ’n geraamde koste van R7 miljoen. Die projek lê Cleophas baie na aan die hart en hy was trots om te kon aankondig dat beplanning binne die nuwe begrotingsjaar sal afskop.
Brandweerdienste wat dié jaar reeds nuwe mylpale bereik het, gaan nog verder uitbrei deur ’n splinternuwe voertuig en twee brandbestryders by hul vloot te voeg.
Munisipale kliënte kan ook binnekort uitsien na voorafbetaalde elektrisiteit wat aanlyn aangekoop sal kan word. Meer besonderhede oor die tydlyn sal ook binnekort bekend wees.
Wat die tariefverhogings betref, het Cleophas benadruk dat almal onder die swak ekonomie gebuk gaan. Hy noem wel dat, ongeag die somber ekonomiese klimaat, tariewe en koerse steeds so laag as moontlik gehou is.
Watertariewe styg met 5,9%. Die munisipaliteit koop water teen R7,18 per kiloliter van die Weskus-distriksmunisipaliteit aan wat in die nuwe boekjaar aan verbruikers teen ’n bedrag van R6,44 per kiloliter vir die eerste ses kiloliter verbruik verkoop sal word.
Eskom verhoog sy tarief aan die munisipaliteit met 12,7%. Die Swartland Munisipaliteit se tariewe is steeds onderhewing aan Nersa se finale goedkeuring en kan verander.
Sanitasie verhoog met 5,9%, terwyl vullisverwydering met 11% toeneem. Eiendomsbelasting daal met 5,7%.
Die konsepbegroting is nou aanlyn of by enige munisipale kantoor beskikbaar vir besigtiging as deel van die openbaredeelnameproses. Alle voorleggings, insette of kommentaar moet voor of op 30 April om 12:00 aan Die Munisipale Bestuurder/The Municipal Manager by Swartland Munisipaliteit, Privaatsak X52, Malmesbury, 7299 gepos word of stuur e-pos aan swartlandmun@swartland.org.za



