Babas van die Stellenbosch-omgewing word die afgelope vier jaar warm toegewikkel in breiwerk van ’n weldoener van die Malmesbury-omgewing.
Stefanie Slabber het pas weer truitjies geskenk, en met die ontvangs daarvan, het personeel by die Stellenbosch-hospitaal rondom babas gekoer terwyl hulle gekyk het watter die mooiste by elkeen pas, het die Wes-Kaap regering gesondheid en welstand in ’n verklaring gesê.
Slabber het vanjaar reeds 50 truitjies gegee wat haar suster, sr. Ronelle Du Toit van die Don en Pat Bilton-kliniek, aan pasiënte van die kliniek asook aan mammas by die Stellenbosch-hospitaal versprei het. Wanneer dit by babas en jonger kinders kom, is daar altyd ekstra opgewondenheid en ywer, want, sê sr. Denise Adams van Don en Pat, hierdie is ’n unieke tyd. “Die eerste 1 000 dae van ’n kind se lewe vorm sy/haar hele toekoms. ’n Kind wat warm, gevoed en veilig voel, het ’n groter kans op ’n gesonde en voorspoedige toekoms. Die truitjies gee ons as gesondheidswerkers nog ’n geleentheid om ’n positiewe bydrae tot die kind se welstand te lewer.”
Sr. René de Silva van die Stellenbosch-hospitaal sê hulle is bly om te sien hoe mense mekaar deur bydraes soos hierdie ondersteun.
Die skenking van truitjies wat via die kliniek gekom het, is ’n goeie voorbeeld van hoe die departement se personeel saamwerk om ’n verskil in die groter omgewing om Stellenbosch te maak.
Die departement herinner ouers daaraan om die beste te maak van die eerste 1 000 dae van ’n baba se lewe deur dienste soos gratis inenting by klinieke en uitreike. Inenting en aanvullings help kinders om te groei en hou hulle veilig teen ernstige siektes.
Onthou ook om jou baba te stimuleer deur met hom of haar te praat, te sing, boekies aan hulle voor te lees en gou hulp te vra as jy bekommerd is oor jou kind se gesondheid of ontwikkeling.





