Die Moorreesburg-Samoa-rugbyklub het Saterdag 25 Maart sy voormalige voorsitters en legendariese lede van die klub by ’n geleentheid in die Moorreesburg-stadsaal vereer.
Volgens André Pekeur, die klub se huidige voorsitter, het die klub se uitvoerende bestuur besluit om ’n geleentheid te hou om Moorreesburg se legendariese rugbymense te bedank.
Pastoor Van der Horst het die geleentheid geopen en Adam Atkins het die gaste vertel van die geskiedenis van die twee ou klubs, Perseverance en Swallows.
Atkins het in sy toespraak verwys na een van die moeilikste besluite in die dorp se rugbygeskiedenis, toe hy as Boland-rugby se oorgangsfasekoördineerder aangestel is en kennis gegee is dat hulle een gemeenskapspan moet stig.
“Ons het aanvanklik baie uitdagings gehad, maar ons het dit oorkom. Vandag is ons een van die suksesvolste klubs in die Boland-rugbyunie,” het Atkins gesê.
Ashley Amon het ook hulde gebring aan vorige administrateurs. “Ek moes as jong man opdragte van die ouer geslag gehoorsaam, maar dit het my en die jonger manne net beter spelers en administrateurs gemaak,” het hy gesê.
Adam Atkins, Elvin Pedro, Wilfred Visagie, Dave Cornelius, Aubrey Engelbrecght en Pekeur het elk ’n merietesertifikaat, ’n medalje en ’n miniatuurtrofee as blyk van waardering vir hul dienste by die vereringsgeselligheid ontvang.
Wyle Corrie Mckrieling se seun David, Willie Amos se dogter Tersia Amon en Steven McKrieling namens Clive Rafferty het die eerbewyse in ontvangs geneem.
Janielle Carolus en Ashley Amon, die kaptein en onderkaptein van die Swartland-liga se seëvierende 2011-kampioenspan, is ook aan die gaste voorgestel.
“Die geleentheid sou nie suksesvol gewees het sonder die teenwoordigheid van Charlton Nieuwoudt, koördineerder van die departement van sport en kultuur, en sy span nie,” het Randall Atkins in sy bedankingstoespraak gesê.
Weens ander verpligtinge kon Charlton nie die geleentheid bywoon nie, maar Stuart April en sy span het uitstekende ondersteuning in sy afwesigheid gebied.
Hy het ook die ondersteuners en gaste wat die geskiedkundige geleentheid bygewoon het, bedank en gesê dit sou nie moontlik gewees het sonder hul bystand nie.
Die verrigtinge is afgesluit met die saksofoonspeler Davon Januarie, wat die gehoor verras het met pragtige musiekklanke, terwyl ’n tweegangmaaltyd daarna bedien is en die partytjie met diskomusiek voortgesit is.





