Auto Services vier met trots sy 10de bestaansjaar in Malmesbury nadat eienaar, Gustav Erlank, besluit het die tyd is reg om sy eie onderneming in Mei 2014 – ná 13 jaar se ervaring in die motorbedryf – te begin.
Volgens hom het die geleentheid homself voorgedoen. ’n Optimistiese uitkyk oor die toekoms het ook in sy guns getel, bieg hy.
Auto Services pronk met ’n span bestaande uit nege mense – drie opgeleide en gekwalifiseerde motortegnici, ’n administratiewe personeellid, vier werkswinkelassistente en ’n skoonmaker.
Erlank het in 2001 as ’n motor-tegnikus gekwalifiseer en spesialiseer sedertdien in onder meer die opknapping van enjins en verkoelingstelsels.
Jacques Booysen, wat van die begin af deel van die span by Auto Services is, het sy kwalifikasie as tegnikus in 2019 bekom. Sy spesialisveld is foutopsporing en diagnose.
Liam Rinquest, wat op sy beurt byna drie jaar daar werk, het in 2021 as tegnikus gekwalifiseer. Rinquest spesialiseer onder meer in die veringstelsels van motors en die herstelwerk van ratkaste en koppelaars.
Met meer as 30 jaar se ervaring tussen die tegnici, bied Auto Services ’n diens waarop sy kliënte kan staatmaak. Volgens Erlank is die geheim tot ’n suksesvolle onderneming in hul bedryf bestendigheid. “Dit bou kliënte-vertroue,” voeg hy by.
- By Auto Services glo hulle daaraan om hul werk van die begin af reg te doen. Auto Services se doelwit en leuse is juis
Auto Service is ’n trotse vyfster- RMI-gegradeerde dienssentrum. Of jou motor nou ’n diens of meer ingewikkelde herstelwerk benodig, is Auto Services die regte keuse vir jou. By Auto Services word nie net voorsiening gemaak vir die private kliënt nie, maar ook vloot-operateurs.
Auto Services se dienste is eindeloos en sluit onder meer gereelde instandhouding, foutopsporing, meganiese- en elektriese herstelwerk asook elektroniese diagnostiek en die opknapping van enjins in. Daarby saam spesialiseer die tegnici ook in remme, nok-bande, tydsberekeningkettings, ratkaste, koppelaars, vering- en verkoelingstelsels, om nog ’n paar te noem.
Die beste deel van die dag vir die personeel by dié onderneming, is gelukkige kliënte wat met veilige voertuie daar wegry. Erlank brei uit en verduidelik motorwerktuigkunde is deesdae ’n gespesialiseerde veld.
En wanneer dit met jare se professionele ondervinding gekombineer word, stel dit hulle in staat om kliënte nie slegs met kundigheid by te staan nie, maar ook ’n diens in ’n japtrap te lewer. “Tevrede kliënte is daarom gewis die beste deel van ons dag,” sluit Erlank af.




