Ashton in Action se enigste doel is om die dorp op enige manier moontlik te verfraai.
Die gemeenskapsgroep is aan dieeinde van 2020 (in November) gestig.
“Ek en my medestigterslede het eendag gesit en gesels oor hoe ons dorp lyk en begin dink aan wat om te doen om ons dorp mooier te laat lyk. Ons het toe met die die Langeberg-munisipaliteit begin praat oor wat ons kan doen,” verduidelik Patrizia van Zyl.
Sy sê hulle het eers met klein projekte begin, soos om die dorp op te ruim en die res van die gemeenskap ook betrokke te kry.
“Een van ons eerste projekte was by die rugbyveld. Ek was eendag by die veld en het gesien die kinders speel op ’n stuk grond wat net sand was. Ons het toe met die munisipaliteit gesels en gras is toe op hierdie spesifieke stuk grond geplant en gryswater word gebruik om na die grasperk om te sien. Ons het ’n besproeiingstelsel met die hulp van verskeie plaaslike sakeondernemings, wat om en by R100 000 geskenk het, geïnstalleer.”
Hulle het ook ’n skoonmaakprojek van stapel gestuur, waarby kinders op die dorp betrokke is.
“Die projek is begin om kinders te leer hoe om hul dorp skoon te maak. Ons doen ook gereeld verskeie projekte met die skoolkinders. Een van daardie projekte is dat ons kinders leer lees. Ons het ná Covid-19 besef die kleiner kinders kon as gevolg van die onderbreking in hul opvoeding nie lees nie. Ons het verskeie ander gemeenskapslede gemobiliseer, soos ouers en oupas en oumas, om die kinders te leer lees,” verduidelik Van Zyl.
Ashton in Action werk ook tans aan ’n groot projek wat eersdaags uitgerol sal word. Hierdie projek is hul antwoord op die sosio-ekonomiese probleme waardeur die gemeenskap gaan.
“Die sosio-ekonomiese probleme is veel groter as wat dit op die oog af lyk. Dus het ons besluit om ’n vaardigheidskool in Ashton te bou. Alle planne is deur die relevante departemente en rolspelers asook die Wes-Kaapse onderwysdepartement goedgekeur.”
Die bou van die skool sal vroeg volgende jaar begin.





