ASHTON. – Die Ashton United-rugbyspan kan hom gelukkig ag dat hy nie sy tuisligawedstryd teen die besoekende Bonnievale Blue Birds verloor het nie – dít nadat hy in ’n stadium in die tweede helfte ’n voorsprong van elf punte gehad het.
Dié Grootuitdaagbeker-kragmeting op die Cogmanskloof-sportterrein het ná ’n klipharde stryd 27-27 gelykop geëindig nadat die spanne ook met die rustyd 13-13 kop aan kop was.
Blue Birds het die tuisspan vroeg in die kragmeting geskud toe sy slot Lukas Kleyn binne enkele minute ná die begin van die wedstryd gaan druk het. Die doelskop was mis (5-0).
Anrich Nelson (heelagter) het Ashton egter minute later met ’n strafdoel op die telbord gekry (5-3).
Ná sowat ’n kwartier se spel was die telling 8-6 in Blue Birds se guns nadat eers die besoekers se Elton Fundisi (losskakel) en toe weer Nelson vir die tuisspan strafskoppe om die beurt deur die pale gejaag het.
Voor dit het Blue Birds amper nog ’n drie gedruk.
Lleyton Davids, die besoekers se spoedvraat-vleuel, het ’n skop opgevolg en die bal pragtig uit die lug gepluk. Hy wou net rieme neerlê doellyn toe toe die skeidsregter, Job Jacobs, sy fluitjie geblaas en hom terugroep. Jacobs het beslis Davids was voor die skopper.
Later in die eerste helfte het nog ’n geleentheid vir punte die besoekers ontglip. Hierdie keer was dit danksy ’n puik stukkie keerwerk deur die ervare David Wagenaar, die binnesenter van Ashton.
Deslin Hermans, ’n slot van Blue Birds, het ná ’n aanval in Ashton se kwartgebied heuphoogte onder die doelpale oor die doellyn geduik. Terwyl hy in die lug was, het Wagenaar sy hande op die bal gekry. Dié twee het toe verbete aan die bal bly klou. Wagenaar het uiteindelik verhoed dat Hermans die bal kon plaas.
Jacobs (skeidsregter) wat in ’n goeie posisie was, het beslis die bal is in die lug gehou en ’n skrum aan die besoekers toegeken.
Blue Birds, wat die pap deurentyd met vinnige tikskoppies lekker dik aangemaak het, het ’n paar minute later wel in die linkerhoek oorgegaan vir ’n onverdoelde drie. Die driedrukker was die skrumskakel, Taylynne Barkley.
Ná Barkley se drie het die telling gegroei na 13-6 met die Blue Birds steeds voor.
Kort voor rustyd het Jacobs ’n strafdrie aan Ashton toegeken nadat ’n Blue Birds-speler ’n moontlike drie deur Ashton op ’n ontoelaatbare wyse gekeer het. Dié betrokke speler is met ’n geelkaart gestraf en die besoekers moes vir tien minute met 14 man speel.
Ná hervatting van die spel het die momentum vir ’n rukkie in Ashton se guns geswaai.
Nelson, wat ’n puik wedstryd gehad het – hy het ’n paar spelers met sy aftrap en verbysterende vaartversnelling in die lug laat gryp – het met sy akkurate skopvoet nog twee strafdoele oorgeklits en Nilo Maarman, stewige buitesenter, het gaan druk, om hul span ’n voorsprong van 11 punte te besorg.
Met die telling toe 24-13 was Ashton vir ’n wyle in beheer van die wedstryd.
Maar Blue Birds, wat deurentyd gepoog het om die tempo van die spel met vinnige balverspreiding te versnel, het na ’n hoër rat oorgeskakel en met ’n drie deur Hermans (slot) wat deur Fundisi (losskakel) verdoel is, teruggeslaan.
Die spanning het hoog geloop met die telling 24-20 en die besoekers wat in die tuisspan se nek geblaas het. Boonop was die uurglas byna leeg.
Dus, toe Blue Birds weer vir ’n oortreding gestraf word, het Nelson sonder wik en weeg aangelê pale toe en met ’n suksesvolle strafdoel ’n buffer van sewe punte vir sy span geskep.
Die telling het aangeskuif na 27-20 in Ashton se guns en ’n oorwinning was enkele minute weg vir die tuisspan.
Maar, net voordat die eindfluitjie geblaas is, het dié moontlikheid van ’n sege vir die tuisspan soos mis voor die son verdwyn toe Jemile Jacobs, die regtervleuel van die besoekers, gaan druk en Fundisi verdoel het om die telling op 27-27 te staan te bring.
Die eindfluitjie het net ná die doelskop geblaas en die wedstryd het gelykop geëindig.
Dit was ’n begeesterde Blue Birds-span wat hom goed laat geld en altesaam vier keer agter die tuisspan se doellyn gaan kuier het.
Hierteenoor kon Ashton slegs een keer op eie houtjie Blue Birds se doellyn oorsteek. Die ander drie was telkens ’n strafdrie wat deur die skeidsregter toegeken is.
Nelson, met sy vyf strafdoele, was met sy dodelike skopvoet grootliks verantwoordelik dat sy span in die wedstryd mededingend kon bly.





