Sr. Sandra Kortje en dr. Andrew Williams aan weerskante van Vincent Andries wie dikwels help wanneer dit tyd is vir ’n pasiënt om huis toe te gaan, maar die persoon nie vervoer het nie. “As my foon lui en ek sien dis Robertson-hospitaal, maak ek dadelik reg om te gaan help,” sê die behulpsame Andries. Foto:


Gesondheidswerkers salueer vrywilligers en vennote wie se hulp noodsaaklik is om gemeenskappe se gesondheid en welstand te bevorder.

Op Mandeladag sê Robertson-hospitaal spesiaal dankie aan Vincent Andries. As vrywilliger het hy reeds meer as 200 pasiënte wat uit die hospitaal ontslaan is of by die ongevalle-eenheid was, huis toe geneem.

Pasiënte is verantwoordelik vir hul eie vervoer, maar gesondheidspersoneel ondersteun dikwels pasiënte om naasbestaandes te kontak en te help om reëlings te tref vir vervoer. Personeel is dankbaar dat hulle op Andries se hulp kan reken wanneer daar nie ’n ander uitweg is nie. Soms kontak hy eers die familie om te hoor wat die uitdaging is, en ander kere neem hy bloot die persoon huis toe.

“Ek was al tot in Mosambiek. Dit maak nie saak waar die mense bly nie,” sê hy. “Ek hou daarvan om mense te help. Dis hoe my ouers ons opgevoed het.”

Hy het ’n hart daarvoor om mense met hul families te herenig en is welbekend in die Langeberg vir sy werk onder veral mense wat haweloos is. Hy maak onder meer seker dat mense wat haweloos is, maaltye kry, want maaltye maak dit makliker vir mense wat medikasie gebruik, om dit te neem.

Andries het op ’n keer ’n vrou langs die pad sien lê en gestop om te kyk of hy kon help. Hy het gesien dat sy waarskynlik ’n beroerte gehad, haar hospitaal toe geneem, en toe sy ontslaan is, kon hy haar na haar gesin neem. Nog ’n voorbeeld van hoe hy die gemeenskap se welstand prioritiseer, was toe hy opgelet het daar is ’n groep senior burgers wat nie na ’n kliniek kon gaan nie. Hy het uitgereik na gesondheidspersoneel, en ’n plan is beraam.

Andries is deel van die Langeberg Doulos Trust, wat dit vir hom moontlik maak om die pasiënte wat ontslaan is en nie by die huis kan kom nie, te vervoer. Hy werk nou saam met verskillende rolspelers in die omgewing om opheffingswerk te doen.

“Ek het nooit ’n dull moment nie! My lewe het drasties verander toe ek in hierdie roeping ingestap het. Daar is net een ‘man’ vir wie ek werk en dis die Here.”

Die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand sê dankie vir Andries vir sy hulp aan die kwesbaarste mense, en beskou hom as ’n waardevolle medewerker in gesondheid. Personeel het op 18 Julie, Mandeladag, ’n geskenkbewys aan hom oorhandig om hul waardering te wys.

Ander Mandeladag-aktiwiteite deur personeel het ingesluit die uitreik na tehuise vir bejaardes met donasies van klere en ander items, en die skenk van kospakkies aan mense wat haweloos is.

“Ons salueer en waardeer Vincent Andries, wat onselfsugtig kies om die gemeenskapslede sonder heenkome en hulpbronne te dien. Sy aksies demonstreer die empatie en sorg waarin hy die Here se voorbeeld najaag,” sê dr. Nellis Beyers, bestuurder van die Langeberg-omgewing vir Wes-Kaap Gesondheid en Welstand.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article