Die spertyd om vir vanjaar se SA Jongwynskou in te skryf, is om die draai en wynmakers het nog tyd tot Donderdag (23 Junie) om by al die Suid-Afrikaanse wynstreke in te skryf en tot 8 Julie direk by die skou se kantoor in die Paarl.
Die organiseerders van die kompetisie vir jongwyne wat in dieselfde jaar gemaak is en die oudste wynkompetisie ter wêreld is, die SA Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV), het aangekondig die beoordeling word vir 25 tot 29 Julie in die Johann Graue-saal by Nederburg in die Paarl beplan.
Die SA Jongwynskou is die wêreld se oudste, wat reeds 190 jaar aangebied word. Dit gee wynmakers sedert 1833 die geleentheid om hul verskillende jongwyne, eksperimentele style en nuwe kultivars teen hul mededingers op te weeg.
Wynliefhebbers sien met groot verwagting na die jongwyne van 2022 uit. Wynmakers is dit eens dat wyne van uitsonderlike gehalte vanjaar gemaak is, wat wit- en rooiwyne met wonderlike geure opgelewer het – ondanks klimaatstoestande wat aansienlik in die groei- en oesperiodes gewissel het.
“ ’n Koel seisoen en matige weerstoestande in die meeste streke tydens parstyd het rypwording vertraag, wat wingerde die geleentheid gegee het om treffende geur en kleur in vanjaar se wyndruifoes te ontwikkel,” sê Conrad Schutte, die konsultasiediensbestuurder van die wynbedryfliggaam Vinpro.
Die SA Jongwynskou is ’n unieke geleentheid vir die wynbedryf om elke jaar die jongwyne vir beoordeling in te skryf en die uitslae as ’n maatstaf van gehalte te gebruik.
Die skou word ook wyd deur wynmakers gebruik om nuwe style en nuwe kultivars vir beoordeling voor te lê, terwyl die bekende kultivars hul staal as jongwyne wys.
Danksy die waarde van die 19 spogtrofeë – wat sedert die gloriedae van die Kompanjiestuin in Kaapstad, en later die Goodwood-skouterrein, in die verskillende kategorieë in samewerking met Agri-Expo toegeken word – het die SA Jongwynskou van krag tot krag gegaan as ’n maatstaf van Suid-Afrika se jongwyne met elke nuwe oesjaar.
Die Jongwynskou pronk sedert 2019 met ’n groot aansporing vir die twee hooftrofeewenners. ’n Vennootskap is gesluit tussen die organiseerders en Porex SA – ’n prominente Paarlse voorsiener van masjinerie en wynboukundige toerusting aan die bedryf – waardeur die twee onderskeidelike wenners van die Generaal Smuts- en Pietman Hugo-trofeë vir ’n sesdaagse reis na Duitsland geborg word. . Die bekendmaking van die nasionale trofee-wenners, asook die wenner van die Pietman Hugo-trofee en die beroemde Generaal Smuts-trofee vir die algehele wenwyn van 2022, word vir 26 Augustus beplan.





