Wêreldallergieweek fokus vanjaar op voedselallergieë.

Credit: PeopleImages

Wêreldallergieweek het verlede week plaasgevind, met die Allergiestigting van Suid-Afrika (AFSA) wat vanjaar op voedselallergieë gefokus het. Hierdie toenemend algemene en soms lewensgevaarlike toestand word onder die loep geneem om bewustheid te verhoog en opvoeding te bied.

Voedselallergieë het wêreldwyd aansienlik toegeneem onder mense van alle ouderdomme – tot so ’n mate dat dit as ’n “voedselallergie-epidemie” beskryf word. “Voedselallergieë raak al hoe meer algemeen, veral onder kinders. Hierdie toename word wêreldwyd gesien en het beduidende openbaregesondheidsimplikasies,” sê prof, Mike Levin, uitvoerende hoof van die Allergiestigting van Suid-Afrika.

Potensiële oorsake vir hierdie toename kan toegeskryf word aan omgewingsfaktore, soos skoner omgewings wat moontlik lei tot ondergestimuleerde immuunstelsels (die “higiënehipotese”). Dieetveranderings, waar kinders later as voorheen blootgestel word aan allergene voedsel en blootstelling aan veranderende voedselverwerkingsmetodes, kan ook bydra. Verhoogde gebruik van antibiotika en antisuurmiddels kan ook ’n rol speel.

“Veranderinge in die mikrobioom van die dermkanaal kan ook immuun­reaksies beïnvloed, wat sal bydra tot voedselallergieë,” voeg prof. Levin by.

Prof. Claudia Gray, ’n pediater en allergoloog by die Kids Allergy Centre en ’n allergiekonsultant by die Rooikruis-kinderhospitaal, sê ongeveer 2,5% kinders in Suid-Afrika het ’n voedselallergie, en hierdie syfer styg.

“Dit beteken twee of drie van elke 100 kinders het ’n voedselallergie, en baie skole sal leerders hê met ’n moontlik lewensbedreigende voedselallergie.”

Voedselallergie is wydverspreid, en dit is belangrik dat ouers, onderwysers, familielede, diegene in voedseldienste en die algemene publiek bewus moet wees van wat ’n voedselallergie behels en hoe om toepaslik op allergie-reaksies te reageer.

Om Suid-Afrikaners te help opvoed, het die AFSA sleutelinligting oor voedselallergieë verskaf:. Wat is ’n voedselallergie?Dit begin gewoonlik op ’n jong ouderdom en kan deur ’n mens se lewe voortduur. Dit behels jou immuunstelsel wat soms verwar word en reageer op proteïene in sekere voedselsoorte.. Simptome van ’n voedselallergie kan wissel van asemhalingsprobleme, jeukerige rooi kolle op die vel (nokkels), jeuk of tinteling in jou mond, naarheid of duiseligheid tot maagpyn.. Toetsing vir ’n voedselallergie behels gewoonlik ’n veltoets of bloedtoets om te soek na IgE-teenliggaampies teen spesifieke allergene.. Bestuur en behandeling van ’n voedselallergie behels die vermyding van sneller-voedsel en die moontlike gebruik van noodbehandelings soos ’n Epi-pen vir ernstige reaksies.

Voedselallergieë neem toe, maar kan bestuur word. Begin deur jouself op te voed en mediese hulp te kry. ’n Dokter kan jou help met ’n bestuursplan om jou lewensgehalte te verbeter. . Meer inligting oor voedselallergieë is op die AFSA-webwerf by www.allergyfoundation.co.za te kry.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article