Die binnekant van die huis is grootliks in die brand verwoes. Foto: Anan Jacobs


Die eienaars van ’n huis in Jasmynstraat, Abbotsdale, is Vrydagoggend (7 Oktober) met rook en as begroet.

Volgens Stanley Scheepers, die eienaar van die huis, het die brand blykbaar in ’n hut agter in die erf, wat uitverhuur word, begin.

Die huurder is deur bure van die brand verwittig. Die vermoede is dat ’n brandende kers moontlik die brand veroorsaak het.

Die Swartland-munisipaliteit het by navraag gesê die brand het na die hoofhuis versprei en al die vertrekke, behalwe vir die kombuis, is met inhoud en al verwoes. Die kombuis het egter baie rookskade opgedoen.

Die houtstruktuur wat op dieselfde erf buite geleë was, het heeltemal afgebrand.

Scheepers sê klere, beddens, hangkaste, ’n kombuiskas, televisieskerm en mikrogolfoond het alles in die slag gebly.

“Die kragboks het ook uitgebrand en [ons] wag nog vir die munisipaliteit om dit te vervang,” sê Scheepers.

Tans is die familie besig om die huis skoon te maak, die binnekant te verf en alles wat in die brand beskadig is, te probeer vervang.

Niemand is in die voorval beseer nie.

Enigiemand wat kan help met skenkings kan Scheepers via WhatsApp by 065 201 5432 kontak. Hulle benodig onder meer ’n klerekas en twee enkelbeddens vir hul kinders.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article