FRANSCHHOEK – Dis min dat soveel groot name op een dag dieselfde verhoog deel, maar dis wat hierdie Saterdag (29 Maart) by die Oesfees gebeur!
Emo Adams, Koos Kombuis en Valiant Swart is maar net drie van ‘n rits musikante wat konsertgangers tot sonsondergang gaan laat stof opskop.
Die Solms-Deltawynlandgoed buite Franschhoek open dan weer sy deure vir musiekliefhebbers en die gemeenskap ter viering van die einde van die oes én Suid-Afrika se musiektalent.
Tommy Hall, dieuitvoerende hoof van die Solms-Delta-wynmaatskappy, sê die fees, wat sy terugkeer in 2024 ná sewe jaar gemaak het, bring musiek én kultuur bymekaar.
“Die Oesfees is ‘n wonderlike platform vir opkomende én gevestigde plaaslike kunstenaars en wanneer mense van heinde en ver onder die eikebome sit met die Groot Drakensteinberge in die agtergrond én boonop heerlike Kaapse kos en wyn geniet, word dit ‘n wenresep.”
“Uithaler-vermaak” beloof Emo Adams met sy aansteeklike energie en kenmerkende humor was ‘n bekende gesig tydens die beginjare van Oesfees en sal soos sy broer Loukmaan en sy band verlede jaar konsertgangers van uithaler-vermaak voorsien.
Hall sê hy is ook verheug dat Koos Kombuis op die dinamiese program is: “Hy is soos Emo ‘n gróót naam in Suid-Afrika en ek het baie respek vir sy musikale bydraes oor soveel jare.” Hy is net so opgewonde oor Valiant Swart se verskyning op vanjaar se Oesfeesverhoog: “Wie kan liedjies soos ‘Die Mystic Boer’ vergeet? Dis reeds in 1995 vrygestel, maar steeds ikonies.”
Anton L’Amour, die gesoute kitaar- speler wat al vir meer as 30 jaar van Suid-Afrika se topmusikante begelei, gaan die verhoog met Swart deel – ‘n ou vriend en musikale kollega. L’Amour het sy eerste solo-album, Dwaalvuur, in 2023 vrygestel.
Nog ‘n nuwe stem by vanjaar se Oesfees is dié van Luna Paige. Hall sê dié sanger en liedjieskrywer van Stellenbosch, wat as gaskunstenaar, gaan optree, is ‘n groot aanwins vir die fees. “Mense sê haar musiek praat met jou hart en siel en ons sien uit om dit eerstehands te beleef.”
Geliefde plaaslike groepe soos die Papier Family Band, Die Soetstemme en Solms-Delta se eie Optelband, begelei deur die bekende Nick Turner, Schalk Joubert en Carlo Fabe, gee net nóg meer skop aan die dag se feestelikhede.
Oom Hannes Coetzee, die lepel- in-die-mond-kitaarman van die Karoo, is nog ‘n bekende Oesfeesgesig wat sy terugkeer maak.
Feesgangers kan ook uitsien na die sielvolle musiek met sy sterk Afrika- aanslag van Tribal Echo se Frazer Barry. Hy tree ook soos verlede jaar weer as seremoniemeester op.
Die ATKV sluit opnuut aan as ‘n borg, waaroor Hall verheug is.
• Kaartjies kos R200 per persoon en is aanlyn by Solmsdelta.com en Plankton.mobi te koop. Die hekke maak 10:00 oop.



