Onwettige betreders na wie verwys word as “vodde-rapers” op soek na goed uit die afval by die plaaslike Highlands-stortingsteirrein, se teenwoordigheid – wat glo al ‘n geruime tyd veroordeel word – het onlangs nog ‘n wending geneem toe een van hulle se hand met ‘n panga afgekap is.
Die voorval het na bewering om 16:00 die middag op 13 Maart ten aanskoue van talle werkers en inwoners plaasgevind. Volgens inwoners wat die terrein gereeld besoek, is daar daagliks sowat vier vodderapers uit nagenoeg 50 wat die terrein met pangas betree. Ooggetuies het die voorval met die Gazette gedeel in die hoop om die gevaarlike situasie die hoof te bied en te voorkom dat nog so gewelddadige voorval plaasvind.
Die Swartland-munisipaliteit het in sy terugvoer gesê ‘n voorval van geweld tussen die sogenaamde vodderapers is ook onder sy aandag gebring. Volgens die munisipaliteit ervaar hy tans uitdagings met die mense wat die Highlands-stortingsterrein onwettig betree om te probeer aas uit die afval wat gestort word en onwettig probeer om op die terrein te plak.
Volgens die munisipaliteit doen Swartland se wetstoepassingsafdeling daagliks rondes om die sogenaamde vodderapers te verhinder en plakkers by die fasiliteit te verwyder, maar sê die grootte van die afvalterrein en beperkte mannekrag maak dit baie uitdagend.
“Dit skep ongelukkig ‘n minder veilige omgewing by die stortingsterrein,” voeg die munisipaliteit by.
“Die munisipaliteit bly egter daartoe verbind om die Highlands-stortingsterrein tot die hoogste standaarde en binne die vereistes van wetgewing te bedryf.
“Juis daarom is ‘n projek om ‘n nuwe sel te ontwikkel, teen ‘n koste van nagenoeg R46 miljoen tans onderweg en is altesaam R4,5 miljoen daarvan begroot om ‘nnuwe heining in die komende boekjaar aan te bring.”
Die munisipaliteit het in die nuwe boekjaar (van 1 Julie 2025 af) vir ‘n nuwe heining rondom die perseel begroot, wat sal help om veiligheid en toegangsbeheer by die stortingsterrein te verbeter.
Die implementering van addisionele veiligheidsmaatreëls word ook bespreek.
Die owerheid voeg by dat reusagtige koste egter daaraan verbonde is.
“Toekomstige ooreenkomste met diensverskaffers by die verwerkingsaanleg sal ook meer voorsiening maak vir veiligheidsmaatreëls wat deur die diensverskaffer ingestel sal moet word.”
Die munisipaliteit maan inwoners om paraat te wees wanneer hulle vullis by die stortingsterrein gaan aflaai.
“Wetstoepassingsbeamptes sal aanhou om die omgewing te patrolleer, maar totdat ‘n nuwe heining geïnstalleer is, sal die vodderapers ongelukkig steeds problematies wees,” erken die munisipaliteit.
Die plaaslike polisie van Malmesbury het die voorval bevestig.
“Die persoon wie se hand afgekap is, het ook die terrein onwettig betree om na skrootmateriaal te soek. Hy het ‘n stryery met ‘n ander onwettige delwer gehad,” het sers. Henry du Randt bevestig.
“Die polisie was op die toneel, waarna die noodienspersoneel die man en sy afgekapte hand na die plaaslike hospitaal geneem het.”
Die verdagte is intussen aangekeer.


