David Rossouw
Die Wesbank-rugbyklub het Saterdag (22 Maart) teen Never Despair op die Alfastraat-sportstadion in ‘n hoogsverwagte Grootuitdaag-
Derby-wedstryd die stem dik gemaak.
Spairs het eerste bloed geruik toe hulle die eerste sewe punte aangeteken het, maar Wesbank het vinnig gereageer en met teenaanvalle begin wat tot Gavern Skippers se verdoelde drie gelei het om die telling gelykop te maak.
Die senterpaar Jean-Pierre Smith en Devon van Niekerk het kanse geskep vir Matthew van der Westhuizen, Dillon Oppelt en Gavern Skippers. Swak dissiplinne aan die kant van Spairs het die skeidsregter genoodsaak om Spairs te straf vir onkantspel en Skippers het die geleentheid gebruik om Wesbank se telling na 10-7 te laat aanskuif.
Beide spanne se verdediging was rotsvas wat verhoed het dat daar geen verdere drieë voor rustyd behaal is nie en Wesbank gehelp om sy drie punt voorsprong van 10-7 tot rustyd te behou.
Harde woorde van frustrasies is rustyd uitgespreek, en ná die herbegin het Spairs druk op Wesbank geplaas en gaan druk. Ongelukkig kon Spairs se doelskopper nie verdoel nie, maar die span was heel tevrede met vyf punte en die voortou van 12-10.
Spairs is egter weer vir onkantspel gestraf en Skippers het weer drie punte met die skoen bygevoeg om Wesbank 13-12 te laat voorloop.
Spairs se nagmerrie met sy dissipline het voortgeduur en nog ‘n strafskop vir onkantspel aan Wesbank op daardie tydstip het die verloop van die wedstryd danksy ‘n 16-12-voorsprong in Wesbank se guns geswaai.
Hoewel Wesbank verbetering getoon het, het ongedwonge foute en dissiplinne tot Spairs se ondergang gelei – kwelpunte vir enige afrigter.
Verdere druk deur Wesbank se meer ervare spelers het groot druk op Spairs geplaas, wat tot Ralton Du Toit se drie gelei het, wat deur Skippers verdoel is en die telling skielik 23-12 gemaak het.
Met net meer as vyf minute speeltyd oor het Tyreec Liedeman ‘n lang aangee van Wellman op die regtervleuel uit die lug gepluk en Wesbank se derde drie gedruk. Skippers se doelskop was mis, maar die koeël was deur die kerk.
Wesbank se oorwinning van 28-12 oor Never Despair hou sy aanspraak lewendig vir ‘n top-twee in die Swartland. Spairs se afrigters sal gewis hard aan die foute werk voor die wedstryd teen Porterville op 29 Maart.
Na die wedstryd het Adonis gesê: “Hul spelers is eenvoudig beter gekondisioneer as ons, wat hulle ‘n voorsprong gee. Ons sal egter op die tekortkominge fokus voordat ons Porterville aandurf.”
Dit is nog te vroeg om voorspellings te waag, maar Wesbank se vertoning in die laaste twee wedstryde dui daarop dat hy op ‘n hoër vlak is en net beter kan word.
Met Abbotsdale, Wesbank en Mamre die pasaangeërs, gaan die komende week se wedstryde vir die voorlopers interessant verloop.
Grootuitdaag-uitslae (22 Maart)
• Swartland
Darling 35-29 Saron, Abbotsdale 44-41 Riebeeck United, Porterville 20-29 Mamre, Good Hopes 30-27 Moorreesburg, Villagers Wittewater 40-30 Voorberg.
• Weskus
Saldanha 38-12 Langebaan,Vredenburg 38-0 Steenberg’s Cove, Goedverwacht 18-22 Piketberg, St. Helena 39-36 Velddrif, Patternoster 27-29 Young Hearts.





