Die spertyd om in te skryf vir vanjaar se SA Jongwynskou, is om die draai en wynmakers het tyd tot 23 Junie om in te skryf by al die Suid-Afrikaanse wynstreke en tot 8 Julie direk by die Skou se kantoor in die Paarl.
Die organiseerders van die kompetisie – vir jongwyne wat in dieselfde jaar gemaak is en die oudste wynkompetisie ter wêreld is – die SA Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV), het aangekondig dat die beoordeling vir 25 – 29 Julie in die Johann Graue-saal by Nederburg in die Paarl geskeduleer is.
Die SA Jongwynskou is die wêreld se oudste, wat reeds vir 190 jaar aangebied word. Dit gee wynmakers sedert 1833 die geleentheid om hul verskillende jongwyne, eksperimentele style en nuwe kultivars teen hul mededingers op te weeg.
Daar word met groot verwagting uitgesien na die jongwyne van 2022. Wynmakers is dit eens dat wyne van uitsonderlike gehalte vanjaar gemaak is, wat wit- en rooiwyne met wonderlike geure opgelewer het ondanks klimaatstoestande wat baie gewissel het gedurende beide die groei- en oesperiodes.
“’n Koel seisoen en matige weerstoestande in die meeste streke tydens parstyd het rypwording vertraag, wat wingerde die geleentheid gegee het om treffende geur en kleur in vanjaar se wyndruifoes te ontwikkel,” sê Conrad Schutte, konsultasiediensbestuurder van die wynbedryfliggaam, Vinpro.
Die SA Jongwynskou is ’n unieke geleentheid vir die wynbedryf om jaarliks die jongwyne vir beoordeling in te skryf en die uitslae as ’n maatstaf van gehalte te gebruik. Die skou word ook wyd deur wynmakers gebruik om nuwe style en nuwe kultivars voor te lê vir beoordeling, terwyl die bekende kultivars hul staal wys as jongwyne.
Danksy die waarde van die 19 spogtrofeë – wat sedert die gloriedae van die Kompanjiestuin in Kaapstad en later die Goodwood-skouterrein in die verskillende kategorieë in samewerking met Agri-Expo toegeken word – het die SA Jongwynskou van krag tot krag gegaan as ’n maatstaf van Suid-Afrika se jongwyne met elke nuwe oesjaar.
Sedert 2019 spog die Jongwynskou met ’n groot aansporing vir die twee hooftrofeë-wenners. ’n Vennootskap is gesluit tussen die organiseerders en Porex SA – ’n prominente Paarlse voorsiener van masjinerie en wynboukundige toerusting aan die bedryf – waardeur die twee onderskeidelike wenners van die Generaal Smuts en Pietman Hugo Trofeë vir ’n sesdaagse reis na Duitsland geborg word.
Die bekendmaking van die Nasionale Trofee-wenners, asook die wenner van die Pietman Hugo Trofee en die beroemde Generaal Smuts Trofee vir die algehele wenwyn van 2022 word beplan vir 26 Augustus.





