MONTAGU. – Genoeg is genoeg!
Só sê ’n groep senior burgers van verskeie bejaardedienssentrums wat Woensdag 15 Junie op Wêreld-bewusmakingsdag oor bejaarde mishandeling (World Elder Abuse Awareness Day/WEAAD) op Montagu saamgetrek en die strate ingevaar het om hul misnoeë en ongelukkigheid met die mishandeling van ouer mense te wys.
Die groep bejaardes het met plakkate deur die strate gestap. Ná die optog het die groep in die gemeenskapsaal in Wilhelm Thyslaan bymekaargekom, waar verskeie sprekers hulle toegespreek het.
Oom Arrie Wilschut van die Langeberg Seniors het die verrigtinge met ’n gebed geopen, terwyl Apostel Ashley Malgas skriflesing gedoen en ’n kort boodskap bedien het.
Suné Volgraaff van die plaaslike landdroskantoor (justisie) het die aansoekprosedure van ’n beskermingsbevel en hoe sodanige bevele gebruik kan word ten einde hulself teen mishandeling te kan beskerm, verduidelik.
Volgraaff het gesê om ’n interdik of beskermingsbevel te bekom, is ongelukkig nie so eenvoudig nie. Voorgeskrewe prosedure moet gevolg word en vorms ingevolge die Wet op Gesinsgeweld en of die Teisteringswet, afhangende van watter wetgewing op ’n geval van toepassing is, moet voltooi word.
Chantal Malgas van die Avbob-begrafnisonderneming het aan die bejaardes gesê mense wat nog die ou begrafnisboekie van sowat 50 jaar terug besit, kan die Avbob-kantoor besoek en die geld wat beskikbaar is, eis.
As die polis ouer as tien jaar is en die begunstigde is ouer as 64, kan die polishouer die geld op daardie polis eis. Dit word ’n ARA genoem en is ’n spesiale bonus wat so polishouer van Avbob mag eis.
Sy het voorts gesê ’n basiese gratis begrafnisvoordeel is by sodanige begrafnisboekie aangeheg.
Zakariya Baker, ’n maatskaplike werker van Age in Action, het gepraat oor die rol van die maatskaplike werkers wat mishandeling van ouer mense betref.
Hy het gesê die rol van die maatskaplike werker is, onder meer, om inligting te verskaf, om die bejaarde wat mishandel word, by te staan en te help dat hy of sy verstaan wat met hom of haar gebeur en hoe om die mishandeling stop te sit.
Hy het kortliks verduidelik hoe maatskaplike werkers ouer mense ondersteun en hulle leiding kan gee oor hoe om ’n einde aan die mishandeling te bring.
Hy het voorts gesê mishandeling is nie net fisiese geweld op ouer mense nie, maar ook ’n gevloek en geskel en disrespekvolle optrede teenoor bejaardes.
Konst. Esmerelda Philander van die Montagu-polisiekantoor het op die diens van die polisie aan bejaardes gefokus. Philander het dele van die Wet op Ouer Persone uitgelig en met die bejaardes behandel.
Sy het spesifiek afdeling 27 van dié Wet beklemtoon, wat die polisie magtig om iemand wat ouer mense mishandel, te verwyder.
Sy het ook genoem dat bejaardes wat beëdigde verklarings moet aflê, nie nodig het om na die polisiekantoor te kom nie. Hulle kan slegs skakel en vra dat die polisie na hul woning kom.
Die polisie mag nie weier om te kom nie. Sy het afgesluit deur te sê as bejaardes klagtes het oor die diens wat hulle van polisiebeamptes ontvang, kan hulle die stasiebevelvoerder of speurhoof gaan spreek.
Die verrigtinge van die dag is afgesluit met dans-items deur ’n paar dienssentrums se bejaardes op die maat van musiek van die DJ Collin Joseph.
Cheronica du Preez, nasionale voorsitter van Age in Action, wat die dag se aktiwiteite gereël het, het die bedankings behartig.
Sy het almal wat ’n rol in die dag se verrigtinge gespeel het, hartlik bedank.





