Van die polisielede wat by inhegtenisneming van die vermeende voortvlugtige betrokke was, is van links na regs: Sers Heinrich de Koker (Skofbevelvoerder: A-Skof), Sers Igshaan January, Sers Buyisiwe Ntshikaniso (AGU), Sers Glenton Jansen (Sektorbevelvoerder: Ashbury & Industriële gebied), Kapt Kwena Magwai (Hoof: Sigbare Polisiëring), Konst Adney Pekeur, Konst Kamokelo Setona (CIG) en Sers Maxim Buys (AGU). Met die neem van die foto was geen lede van die Koo-Plaaswag teenwoordig nie. Foto: Norman Evertson

Credit: SYSTEM Credit: SYSTEM

MONTAGU – Die voortvlugtende verhoorafwagtende moordverdagte wat sowat twee maande lank in die Montagu-omgewing geskuil het, is verlede Woensdagaand (15 Junie) in die Koo-vallei vasgetrek.

Volgens die sers. Genton Jansen, sektorbevelvoerder van Ashbury en die nywerheidsgebied, het die polisie inligting van die publiek ontvang oor waar die voortvlugtige moontlik kan wees.

Jansen en nog kollegas, bygestaan deur die Koo-plaaswag, het die inligting opgevolg.

Die inligting het hulle na die bekende Bo-Plaas in die Koo-omgewing gelei.

Jansen vertel hoe die voortvlugtige se vlerke geknip is. Volgens Jansen was hy op daardie stadium ’n tree of twee voor sy kollegas terwyl hulle ’n spesifieke werkershuis genader het.

“Ons het ’n werkershuis op Bo-Plaas genader. Toe ek om ’n muur loop, het ek vas in die verdagte se oë gekyk.

“Hy het half verskuil in ’n hoek gesit. Langs hom het ’n lang geweer gestaan en ’n swartsak op die grond.

“Daar het ook ’n lang mes by hom gelê,” sê die sektorbevelvoerder.

Hy het toe die verdagte beveel om op die grond te gaan lê.

“Hy het saam met twee mense om ’n vuur gesit. Ek het hom beveel om op die grond te gaan lê. Ek het hom toe op die grond vasgepen, geboei en in hegtenis geneem.”

By verdere ondersoek op die toneel is bevind die swart sak het ’n hoeveelheid lewendige ammunisie bevat.

Die verdagte, Juneal Jacobs (23), ’n boorling van Riebeeck-Wes, was ten tyde van sy beweerde ontsnapping verhoorafwagtend op ’n moordklag in die Malmesbury- Korrektiewe Sentrum.

Benewens die klagte van ontsnapping, staar hy nou ook bykomende klagtes van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie in die gesig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article