Die eerste amptelike Goue Spele wat in Piketberg gehou is, was ’n reusesukses. Op die foto pronk die rolspelers agter die suksesvolle geleentheid saam met die verteenwoordigers van die verskeie bejaardeverenigings en dienssentrums.


“Die ouer mense in die Bergrivier- munisipale gebied is ons pilare van wysheid, wat ’n groot hoeveelheid en waardevolle plaaslike kennis besit, en is ons betroubare gidse wanneer dit by gemeenskapsontwikkeling en soortgelyke inisiatiewe kom. Hierdie is een manier waarop ons hulle kan bedank en vier vir hul betekenisvolle bydrae in ons gemeenskappe!”

Dít was die woorde van Ray van Rooy, die uitvoerende burgemeester van die Bergrivier-munisipaliteit, wat die belangrike rol wat ouer mense in die samelewing en in hul onderskeie gesinne vertolk, beklemtoon het.

Die munisipaliteit, in vennootskap met die departement van kultuursake en sport, die Weskus-distriksmunisipaliteit (WKDM), die departement maatskaplike ontwikkeling, mediese nooddienste (EMS) en Bergrivier Motivated Women (BMW) het sy eerste amptelike Goue Spele op 22 Junie in Piketberg aangebied.

Meer as 200 ouer inwoners het hierdie geleentheid bygewoon.

Die Goue Spele is daarop gemik om ouer mense ’n geleentheid te bied om sosiaal saam met hul eweknieë van ander dorpe te verkeer en hulle terselfdertyd by te staan en aan te moedig om ’n gesonde leefstyl te handhaaf deur aktief te wees en aan sportaktiwiteite deel te neem.

Die ouer mense, wat van die verskillende dorpe in die Bergrivier- munisipale gebied kom, het almal ’n bejaardevereniging of dienssentrum verteenwoordig. Tien verenigings is by die Goue Spele teenwoordig en het teen mekaar meegeding vir die eerbewyse in jukskei, rugbybalgooi, doelskiet, eendstap, ring die stok, 500 m- vinnige stap; 100 m-naelloop en die 4×100 m-aflos.

“Uiteindelik was al die ouer mense wat aan hierdie wedstryde deelgeneem het, die wenners. Hulle het almal medaljes ontvang en ons wens hulle geluk met hul entoesiasme, mededingendheid en vreugdevolle gees.

“Ek wil graag my opregte dank spreek aan al die rolspelers wat bygedra het tot die sukses van die dag en verseker het dat ons ouer mense ‘eregas’-behandeling kry,” het Mario Wessels, die uitvoerende onderburgemeester, afgesluit.

“Ons beplan om hierdie geleentheid weer volgende jaar aan te bied, en ons hoop om net groter te gaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article