Die kunstenaar Melanie Smit van Yzerfontein.


Met ’n groot verskeidenheid kleure, teksture en seisoene rondom haar as kind, het Melanie Smit se liefde vir kuns van kindsbeen af ontwikkel.

Dié Yzerfontein-inwoner is omring deur inspirasie en vertel sy vind haar siel op die lang strand van Yzerfontein en haar gedagtes dwaal op die kruin van die branders.

“Dit inspireer my om die verfkwas sy strepe op die doek te laat neerlê,” vertel sy trots.

Smit speel rond met ’n gemengde medium soos akriel, olie en glasuur.

Sy het aanvanklik studeer om ’n haarkapper te word, maar nadat die kunsgogga haar gebyt het, het sy ook kunsklasse bygewoon.

Sy het die geleentheid gehad om haar kunswerke op die Ilse of Wight in die Verenigde Koninkryk uit te stal, muurkuns by skole en hospitale in die VK te doen asook spesiale kommissiekunswerk te doen.

Volgens Smit het sy net nie genoeg tyd in die dag om kreatief te wees nie. “Wat vir my ’n uitdaging is, is soms om my tydbestuur so noukeurig te doen dat my kreatiwiteit uitgeleef kan word,” vertel sy.

Haar nuutste skepping, getiteld Reflection, is een van haar gunstelingkunswerke tot nou, sê sy.

“Dit gaan oor die refleksie van my lewe die afgelope agt jaar en vertoon ’n abstrakte weergawe van ’n dam met waterlelies in blom. Dis ’n groot kunswerk met helder geel, groen en blou wat lewe en groei weerspieël.”

Om meer van haar kunskennis te deel, het Smit ’n werksessie saam met vriende begin, waar hulle saamkom om mekaar te inspireer en kreatief te wees.

Sy sê ook haar doel met haar kunswerke is om haar siel met diepte by haar kuns te voeg vir die siener en die ontvanger.

Sy moedig opkomende kunstenaars aan om hul eie styl te bou. “Moenie toelaat dat die wêreld en sy mense jou vermink om jou doel te bereik nie. Werk elke dag hard en moenie bang wees om met nuwe materiaal en tegnieke te eksperimenteer nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article