Die Darling-gemeenskap spog saam met die jong fietsryer Davinique Cleophas (16) oor haar deelname aan die onlangse Youth Festival in Oudtshoorn.
Die fietsry-fees het van 11 tot 14 Julie plaasgevind.
Volgens Cleophas het haar fietsry-droom op ’n jong ouderdom begin en het haar ouers haar nog altyd bygestaan daarin.
Die Youth Festival is ’n jaarlikse geleentheid waar jong fietsryers tussen die ouderdomme van 11 en 19 jaar hul staal kan wys en meeding teen ander jong fietsryers van regoor die land. Davinique het in die bergfietsry- afdeling vir seniors deelgeneem wat ook een van die gewildste afdelings van die kompetisie is.
Sy vertel dat die beoordelaars haar nie in die junior afdeling wou laat deelneem nie, en sy die geleentheid gehad het om in die senior afdeling mee te ding.
“Dit het my so gemotiveerd laat voel omdat nie net word my talent raakgesien op junior vlak nie, maar ook in die senior vlak en glo my, ek het my talent behoorlik laat uitstaan,” laat sy hoor.
Cleophas sê die Youth Festival het vier dae lank geduur, en dat sy baie geleer het by hierdie geleentheid.
“Ek kry my talent van God af, maar my pa is die rede hoekom ek so verlief geraak het op hierdie stokperdjie,” vertel sy.
Sy kyk op na internasionale fietsryers soos Peter Sagan, Julian Alaphilippe en Biniam Girmay. Hierdie fietsryers sien sy as helde in haar jongmenslewe, want in haar oë ry hulle die beste.
Sy wil graag hul tegnieke gebruik om in haar fietsry toe te pas.
Volgens Cleophas wil sy graag sportbestuur ná skool gaan studeer en eendag haar eie fietsryklub stig.
“Ek wil graag eendag teruggee aan my gemeenskap met my fietsryloopbaan,” sê sy.
“Ek voel vandag is daar baie tieners wat verkeerde besluite neem en dade doen, en daarom wil ek eendag ’n klub stig wat hulle uit die kwaad kan hou,” vertel sy.
Cleophas mik om die meeste van haar toekoms in fietsry te maak, en wil nie net borge trek wat haar in haar eie loopbaan kan ondersteun nie maar ook wat kan help om terug te gee aan elke tienermeisie in haar gemeenskap.
“Ons almal het ’n talent as jongmense en ons kan ’n positiewe verskil maak in ons gemeenskap,” voeg sy by.





