Gesondheidswerkers in die Langeberg het soos blits ingespring nadat ’n brand verlede Saterdag (9 Julie) by die Zolani-kliniek geblus is.

Die oomblik toe dit veilig was, het personeel self met opruimingswerk begin.

“Dit is hoe belangrik dienslewering vir die span is,” sê sr. Megan Williams, die Wes-Kaapse regering se gesondheid- en welstandbestuurder van primêre gesondheidsdienste in die Langeberg. “Almal se hulp die afgelope paar dae beteken dat die kliniek sy deure vinniger sal kan heropen,” sê sy.

Die adjunkdirekteur van tegniese dienste vir die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand, Stephan Reichert, se span is een van dié wat bystand verleen indien ’n voorval soos ’n brand by een van departement se fasiliteite voorkom. Hy was oorbluf om te sien hoe vinnig die plaaslike gesondheidswerkers Saterdag uit hul eie bymekaar gekom en begin het om die vloere en mure skoon te skrop.

“Ek het nog nooit so iets beleef nie. Almal het net opgedaag met ’n glimlag en by die stink, vuil toneel begin werk. Hulle het nie aanwysings nodig gehad nie. Hierdie is ’n hegte span met een doel voor oë: om weer hul kliënte te help,” sê Reichert.

Die departement se direkteur van landelike gesondheidsdienste in die Wes-Kaap, dr. Lizette Phillips, spreek ook haar waardering uit: “Wat ’n pragtige voorbeeld van ’n verenigde front – ten spyte van hierdie voorval. Dankie aan almal wat help en toesien dat gesondheidsdienste steeds beskikbaar is,” sê Phillips.

Die meeste van die skade is in die ontvangsgebied aangerig en is oorwegend weens die rook en water om die brand te blus. Terwyl opruimingswerk afgehandel word, is tydelike reëlings getref sodat beperkte dienste uit mobiele klinieke van Woensdag (13 Julie) af op weeksdae by die Zolani-kliniek gelewer word. Mense kan van hierdie geleentheid gebruik maak of die Kogmanskloof-kliniek besoek. Mense wat noodgevalle het, word gevra om na die naaste hospitaal te gaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article