Drie van die ses verdagtes wat Dinsdagaand (19 Julie) omstreeks 19:45 ’n winkel in Jacarandastraat, Wesbank beroof het, is in hegtenis geneem.
Volgens die plaaslike polisiewoordvoerder, sers. Henry du Randt, het twee van die ses verdagtes vuurwapens uitgehaal en die winkel van ’n onbekende bedrag kontant en sigarette beroof.
“Die verdagtes het die winkel verlaat en in twee afsonderlike voertuie gevlug,” het du Randt gesê.
Du Randt het aan Gazette gesê een van die voertuie wat die verdagtes gebruik het om weg te kom, was ’n gesteelde voertuig wat vroeër in die week in Kraaifontein gesteel is.
Drie van die verdagtes is Woensdagoggend in die Mbekweni-gebied naby Wellington met die gesteelde voertuig in hegtenis geneem.
’n Klag van sakeroof word ondersoek. Die verdagtes het op 22 Julie in die Malmesbury-landdroshof verskyn. Die winkel het AR24 Security Services en Muldoon Protection Services (MPS) bedank vir hul vinnige optrede.



