Die AfriForum-tak in Malmesbury het in Julie, as deel van die organisasie se #OnsDorp-projek, bederfpakkies by die Goue Aar-ouetehuis uitgedeel.
Die tak het 70 bederfpakkies aan die inwoners uitgedeel om hulle te wys hulle word waardeer. Bederfpakkies is ook aan die personeel uitgedeel om hulle op dié manier te bedank dat hulle so goed na die bejaardes omsien.
Die bejaardes het ook die tak-lede bederf deur ’n paar lofliedere te sing.
“Dit was wonderlik om deel hiervan te kon wees,” sê Kim Poulton, voorsitter van die AfriForum-tak in Malmesbury.
“Die dankbaarheid en blydskap van die inwoners oor hierdie klein gebaar van omgee was werklik hartroerend. Ons sal gewis voortgaan met uitreike soos hierdie en wil graag die gemeenskap uitnooi om deel van hierdie span te word en só ’n groter verskil te maak,” sluit Poulton af.. Enigiemand wat belangstel om by Malmesbury se AfriForum-tak aan te sluit, kan die woord “Boland” per SMS na 45350 stuur. SMS’e kos R1.





