Buitelug gebedsessie met Pastoor Enrico Cloete en ’n inwoner van Wesbank-woonstelle.Foto: Lionel Kastoor

Credit: SYSTEM

Groot kommer heers oor die toename in bendegeweld en dwelmmisbruik in die Wesbank-gemeenskap en die betrokkenheid van jeug by hierdie misdade.

Volgens sers. Henry du Randt, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, begin sommige kinders al van negejarige ouderdom af met dwelms eksperimenteer.

“In die meeste gevalle word dwelmhandelaars in hierdie klein kinders se oë as helde en rolmodelle gesien,” sê du Randt.

Hy sê die probleem kom nie van wat die kind op straat sien gebeur nie, maar hoofsaaklik van die huishouding af waar ’n kind daaraan blootgestel word.

“Sulke kinders het altyd ’n probleem van ’n pa wat afwesig is of geen manlike rolmodel by die kind se huis nie, terwyl werkloosheid ’n groot faktor in hierdie soort gevalle is. Dwelmhandelaars mik vir die minderjariges en tieners wat nie veel kennis het van die waarde van geld nie, maar enigiets sal doen om geld in die hande te kry,” sê hy.

Hy sê ook hedendaagse tieners gaan agter handelsnaamklere aan, en as hulle ’n geleentheid kry om geld te kry vir enige daad waarvoor iemand sal betaal, sal die tiener dit doen.

“Tieners sal tot in staat wees om ’n vuurwapen te koop en ’n rooftog te pleeg,” sê du Randt.

Volgens du Randt kan onwettige vuurwapens maklik in verskeie gemeenskappe in Malmesbury onder bendeleiers verkry word.

“Ons het verdagtes in hegtenis geneem wat betrokke was by rooftogte waar hulle vuurwapens het, en ons het ook ’n tiener in hegtenis geneem wat by bendegeweld betrokke is,” sê hy.

Du Randt sê die polisie se teen-bende-eenheid maak seker hulle doen daagliks klopjagte binne en rondom die Wesbank-gemeenskap.

“Deesdae kom die meeste verdagtes wat die teen-bende-eenheid in hegtenis geneem het, uit Wesbank en Ilingelethu. Die gemeenskap moet besef ons as die polisie doen ons bes om die gemeenskap teen die situasie saam met die teen-bende-eenheid te beveilig,” sê hy.

Die plaaslike senior pastoor Enrico Cloete van House of Praise Ecclesia sê die gemeenskap en die polisie moet uit ’n geestelike oogpunt na die situasie kyk.

Cloete is nie net ’n senior pastoor nie maar het ’n kortkursus oor dwelmmisbruik by die Universiteit van Kaapstad gedoen. Hy meen geweld en misdaad onder bendes in die gemeenskappe is gewis ’n probleem.

“Nie net is dwelms ’n probleem in die Wesbank-gemeenskap nie, maar die misbruik van alkohol is ook ’n groot probleem,” sê Cloete.

“Malmesbury is ’n dorp wat uit verskillende kultuurgroepe bestaan, en om daardie groepe saam te bring, kan hulle in sportaktiwiteite betrokke raak,” stel hy voor.

Volgens Cloete is Malmesbury ’n sportgemeenskap wat goed in rugby en netbal presteer.

“Mense in die dorp het baie talent, wat hulle kan ontwikkel en nie net slegte dade doen soos dwelms gebruik nie, en bendes hoef nie op mekaar te skiet vir posisie nie,” vertel Cloete.

Hy sê jong mense moet opkyk na rolmodelle soos die akteur Dean Smith (“Wade” in Suidooster) wat ook in die Swartland grootgeword het.

“Baie tieners het die potensiaal om ’n verandering in hul lewe te maak en hoef nie misdaad te pleeg nie,” sê hy.

Cloete en ander inwoners kom gereeld op verskeie punte in Malmesbury bymekaar en bid vir die probleme wat tans onder bendes die kop uitsteek.

Hulle het juis Dinsdagaand (26 Julie) met ’n paar inwoners by die Swartland-gemeenskapsportsentrum in Wesbank byeengekom en oor bendes, geweld en dwelmmisbruik gebid.

“Omdat ons gebid het waar die meeste van dié misdade plaasvind, kan ons dit nie altyd in die aand doen nie, maar ons probeer elke Sondagmiddag,” vertel Cloete.

’n Inwoner en ouer van twee tienerseuns van Wesbank, wat anoniem wil bly, het aan Gazette gesê sy is bekommerd oor haar seuns se veiligheid.

“My seun is onskuldig en nie by bendes betrokke nie, maar die bendes nader my seun gereeld,” sê sy.

Die inwoner sê toe sy ’n tiener in die Wesbank-gemeenskap was, was bendes nie so gewild soos party bendes vandag is nie.

“Dwelms was ’n groot probleem, maar ek en my broers het geweet wat reg en verkeerd is,” onthou sy.

“Ouers moet in hul kinders se lewe teenwoordig wees; ongeag watter probleme hulle het – wees net altyd teenwoordig in jou kind se lewe,” pleit sy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article