Kroonstad, Kwêla se Dorp van die Jaar vir 2022, het Maandag 8 Augustus op Robertson kom kuier om wenke en inspirasie te deel.
“Eenheid, begin met klein oorwinnings en werk met ’n plan,” was die kernboodskap toe André van Pletzen van “Ignite and Revive Kroonstad” Robertson besoek het.
Hy het vertel hoe sleg dit tot onlangs in Kroonstad gegaan het. Riole het in die Valsrivier tot in die Vaalrivier afgeloop, massiewe bedrae is aan die munisipaliteit geskuld en eenheid tussen sosio-ekonomiese- en rassegroepe op die dorp het nie bestaan nie.
Ten spyte hiervan is die dorp in Julie as Kwêla se Dorp van die Jaar vir 2022 benoem.
Hoe het hulle dit reggekry; hoe het hulle hul dorp omgedraai? was die vraag op almal se lippe gedurende Van Pletzen se besoek.
“Inwoners moet besluit: Dit is my dorp hierdie en dit gaan nie verder nie,” het Van Pletzen beklemtoon. “Robertson kan met ’n Nehemia-hart, samewerking en klein, maklike, oorwinnings in Kroonstad se voetspore volg.”
’n Nehemia-hart verwys na die storie van Nehemia, wat Jerusalem herbou het. Hy was ’n planmaker en ’n doener.
Elke Robertsonner kan ook ’n Nehemia wees, en saam kan almal ‘n plan maak, wat ’n merkbare verskil sal maak.
Samewerking is om die inwoners, sakeondernemings, skole, die polisie en die munisipaliteit in ’n eenheid saam te bring. “Saam kan baie gedoen word. Dit is nie maklik nie, maar deur hande te vat – ook oor ras- en sosio-ekonomiese grense – is noodsaaklik,” het Van Pletzen beklemtoon.
Voorbeelde van klein oorwinnings is vir inwoners om die straat voor hul eie huise skoon te hou en so ander te inspireer. Die ingange na die dorp moet ook skoon wees en padsirkels kan versier word. “Klein oorwinnings bou en behou momentum, skep eienaarskap en bring groter suksesse.”
Van Pletzen het afgesluit deur Robertson uit te daag om Kroonstad te volg, hoop te skep en verandering mee te bring– “nie net vir Robertson nie, maar die Breedevallei as geheel”.




