Van Loveren Family Vineyards het vanjaar die eerste keer tydens die bekende Robertson-streekjongwynskou die kampioentrofee sowel as die trofee vir die vyf beste inskrywings gewen.
Van Loveren se natuurlike soet muskaat was die algehele kampioen asook die kampioen in die klas vir natuurlike soet wyn.
Verder het Van Loveren nog trofeë vir die kampioen chenin blanc, kampioen colombar, kampioen merlot gewen.
Sy Van Loveren Carignan is vanjaar as die kampioen ander rooi kultivar aangewys.
Pronkwyne van Bon Courage-landgoed asook Robertson-wynmakery het elk vier kampioenskapstrofeë gewen.
Bon Courage het weggestap met die trofeë vir kampioen muskadel, kampioen Kaapse styl, kampioen shiraz en chardonnay.
Robertson-wynmakery se colombard/mario muskaat is as kampioen droë wit versnit aangewys.
Sy mario muskaat is ook die kampioen ander wit kultivar.
Robertson se cabernet sauvignon/shiraz/ruby cabernet is as die kampioen droë rooi versnit aangewys.
Dié wynmakery se gehoute pinot noir was die kampioen pinot noir.
Die trofeë vir die kampioen sauvignon blanc sowel as kampioen edellaatoes staan vanjaar by Ashton-kelder.
Die trofee vir die kampioen pinotage is aan Roodezandt-wynmakery toegeken.
Bonnievale-kelder is die tuiste van die trofee vir die kampioen cabernet sauvignon.




