Die Robertson-toerismekantoor werk altyd hard om seker te maak besoekers aan die dorp ervaar onvergeetlike tye. Renate Le Roux, die toerismekantoor se bestuurder, antwoord ’n paar vrae:
Wat is die doel van die toerismekantoor?
Robertson Toerisme is ’n organisasie sonder winsoogmerk, wat Robertson en sy inwoners verteenwoordig met die hoofdoel om Robertson as ’n toerismebestemming te bemark.
Op watter verskillende maniere werk die toerismekantoor om die dorp relevant vir toeriste en besoekers aan die dorp te hou?
Ons is baie trots op ons goeie verhouding met die plaaslike, sowel as die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit. Deur hulle bly ons voortdurend op hoogte van die nuutste tendense in toerisme en waar geleenthede is. Ons is gedurig op die uitkyk vir nuwe produkte en aanbiedings uit ons omgewing. Ons bemark graag plaaslike ondernemings en klein tot medium sakeondernemings (SMME’s) wat hoëgehalteprodukte en dienste, wat uniek aan Robertson is, bied. Ons wil ook Robertson posisioneer as ’n bestemming met eksklusiewe aanbiedings en produkte. Ons streef na kleiner groepe vir meer persoonlike ervarings.
Hoe het toerisme op die dorp in die laaste tien jaar verander?
Die pandemie het plaaslike toerisme bevorder en Wes-Kapenaars is ons grootste bron besoekers. Oorsese besoekers soek unieke ervarings en hulle wil graag nuwe kulture leer ken en beleef. Afrika se wye oop ruimtes, sonskyn en unieke kulture is op die oomblik baie gesog. Ons het gedurende die inperking heelwat toeroperateurs genooi om ons dorp te besoek. Hul voete is elke enkele keer onder hulle uitgeslaan deur die gehalte en wye verskeidenheid aanbiedings en die ongelooflike gasvryheid van ons mense.
Die dorp was onlangs weer ’n finalis in die Dorp van die jaar-kompetisie – wat is dit wat die dorp so ’n groot gunsteling maak?
Buiten die natuurskoon en wêreldklas produkte van ons omgewing, glo ek dit is die gasvryheid van ons mense. Besoekers is verstom oor die gulhartigheid en warm ontvangs wat hulle hier ervaar. Hulle kom hier aan as vreemdelinge, maar vertrek as vriende. Dit is terugvoer wat ons byna daagliks ontvang.
Na watter toekomstige planne of projekte kan die inwoners van die dorp en besoekers uitsien?
Ons verwag hierdie week die eerste besoek van die Blou Trein, waarna dit hopelik meer gereeld sal gebeur. Ons beplan om die passasiers ’n fantastiese ervaring te gee sodat hulle later vir nog wil terugkom. Ons is besig om die historiese stasie en die oorspronklike stasiegebou (circa 1892) te restoureer en het groot planne wat binnekort aangekondig sal word.
Ons wag ook in spanning om te hoor of ons aansoek om ’n lisensie vir ’n plaaslike radiostasie suksesvol was. Volg ons op Facebook en Instagram om op hoogte te bly van ’n leefstylwynfees wat ons vir April 2023 beplan. Ons nooi ook alle nuwe intrekkers (en mense wat al jare hier woon) om ons by die kantoor te besoek vir inligting oor alles wat hier is om te doen.



