Erfenisdagvieringe het ekstra oemf gekry toe Willem Stuurman ná slegs 65 dae sy nuwe rolstoel kon kry. By hom by die Erfenisdagvieringe waar sy stoel oorhandig is, is Happy Heart-bestuurder Heylin Williams en Heinelize Knoesen van Sinethemba.


Willem September van Malmesbury het pas sy eie nuwe rolstoel gekry – en dit danksy vele Swartlanders wat saamgestaan en begin plastiekdoppies insamel het vir hierdie doel.

Slegs 65 dae nadat Gazette in Julie berig het nog 450 kg plastiekdoppies moet ingesamel word sodat dit by die Sweetheart-stigting vir ’n nuwe rolstoel ingeruil kan word, het Willem sy rolstoel by Erfenisdagvieringe ontvang.

Altesaam 450 kg doppies is letterlik bakkievragte vol! Skole, kerke, bejaardes en kinders het gehelp insamel en Petri Bosch van Bosch Services het die vragte doppies gehelp aanry en inweeg.

Terwyl die Sinethemba-bestuur elke Vrydag verslag gedoen het oor hoe die insamelkerf styg, het drie ander skenkers van die projek gehoor en ook rolstoele geskenk: ’n Nuwe rolstoel elk vanaf Slim Sun Solar Park en die Atlantis Rotariërverening. ’n Anonieme skenker het ’n goeie tweedehandse stoel geskenk. Nadat Willem (57) op 23 September sy eie rolstoel ontvang het, het hy in sy toespraak almal wat bygedra het, vir al die hulp bedank. Willem en twee ander lede van die Happy Heart-stigting (Sinethemba se vertakking, wat met gestremdes werk) het vroeër daardie week elk ’n oogtoets en nuwe bril danksy die Phelophepa- mediese trein op Darling gekry – elke pasiënt moes slegs R30 hiervoor betaal.

Willem is 33 jaar gelede tydens ’n skietongeluk verlam gelaat. Sy eerste rolstoel was stokoud en kon nie in ’n motor gelaai word nie. Danksy hierdie stoel is sy mobiliteit nou 100% beter.

Tydens die oorhandigingsgeleentheid het Heinelize Knoesen, Sinethemba se bestuurder, gevra Malmesbury se mense moet aanhou plastiekdoppies versamel, aangesien nog twee Happy Heart-lede ook rolstoele benodig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article