Wayne Bosman se 1967 Chevrolet Pickup Truck. Foto’s: Anan Jacobs


Antieke motors van heinde en ver het Saterdag (8 Oktober) by die Swartland-skouterrein vir die eerste Samou-motorskou saamgetrek.

Die motorskou is by die Moorreesburg se Lions-klub gereël.

Anton Roux, die klub se president, sê altesaam 160 voertuie is ingeskryf.

“Ongelukkig het ons nie borge gehad nie, maar ons het wel kosstalletjies en lekker musiek gehad. Ons het hierdie geleentheid gebruik om aan die gemeenskap terug te gee,” sê Roux.

Die Moorreesburgse Lions-klub vier 25 jaar diens aan die gemeenskap.

Volgens Roux het verskeie families in die gemeenskap noodsaaklike dinge soos kos nodig, “wat ons dan vir hulle as skenking gee,” sê hy.

Bradley Schutters, wat sy 1979- Datsun 300C kom uitstal het, sê die rede waarom hy dié klassieke ryding gekoop het, is omdat hulle skaars is.

“Ek het die kar van 2010 af en is die tweede eienaar,” sê hy.

Die motor is in 2011 volledig oorgebou en gerestoureer. Roux sê die voertuig was oorspronklik ’n diegang-outomaties, waarna dit na ’n RB20-vyfgang-handrat verander is.

Johan Kruger, die eienaar van ’n 1931- Chevrolet Sports Five Window Coupé, sê dié bakkie het ’n sessilinder enjin en lewer 45 kilowatt. Johan en sy seun Johandri is tans besig met twee ander antieke bakkies wat hulle graag in die toekoms vir ander motor-kompetisies wil inskryf.

“Hierdie is nie die vinnigste motor nie, maar dit is goed vir iemand en ’n metgesel om weg te breek vir daardie Sondagmiddag-roadtrip,” sê hy.

Volgens Kruger is die waarde van die voertuig op die oomblik R250 000 en die onderdele word uit Amerika ingevoer.

Wayne Bosman sê hy gebruik sy 1967- Chevrolet-bakkie as ’n daaglikse voertuig.

Een van die luukse ombouings wat aan die bakkie gedoen is, is die E-Rods-lugtenk wat agter op die bak gemonteer is. Dit pas by die styl van die bakkie wat deesdae “Slammed” of “aired out” genoem word.

Bosman sê hy het die bakkie in 2007 gekoop en dit het 10 jaar in sy erf gestaan voordat hy die ombouings gedoen het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article