Wingerdwerkers kan die eerste keer nou hul vaardighede aanlyn verskerp danksy die bekendstelling van ’n e-leer-platform vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf.
Winetech Mensontwikkeling, die bedryfsliggaam wat daarmee gemoeid is om die wynbedryf se strategie rakende die ontwikkeling van mense uit te rol, het die aanlyn platform ontwikkel met die doel om aan mense regdeur die wynbedryfwaardeketting topgehalte opleiding in ’n eenvoudige en toeganklike formaat aan te bied.
“Dit was die eerste logiese stap om op plaasvlak te begin, en danksy Vinpro se wingerdwerker-opleidingspakket, wat reeds oor uitstekende leermateriaal, videos en assesserings beskik het, kon ons dit maklik op die platform integreer,” sê Kachné Ross, bestuurder van Winetech Mensontwikkeling. Die platform gaan oor die volgende paar jaar uitgebrei word om ook op wynbereiding, bemarking en verkope asook logistiek en verspreiding te fokus.
Vinpro se jaarlikse wingerdwerkeropleiding is alombekend in die wynbedryf, met meer as 5 000 mense wat hul praktiese vaardighede oor die afgelope sewe jaar opgekikker het. Die fisieke opleiding is op ’n DVD-opleidingspakket geskoei, waarvan die 10 modules nou aanlyn beskikbaar gestel word. Dit sluit snoei, wingerdvestiging, stokontwikkeling, lowerbestuur, grondbestuur, identifisering van siektes en plae, besproeiing, bemesting, die oes van wyndruiwe en grondkunde in.
“Mense is die onderbou van ons bedryf, en daarom is dit belangrik dat ons hulle die geleentheid bied om hul kennis en vaardighede deurlopend uit te brei,” sê Conrad Schutte, Vinpro se konsultasiediensbestuurder. “Deur te begryp hoekom en hoe hulle dinge op ’n sekere manier uitvoer, gee aan hulle ’n gevoel van trots en sin vir verantwoordelikheid in hul werk, wat produktiwiteit verhoog. Hierdie nuwe gerieflike aanlyn platform gee leerders die geleentheid om teen hul eie tempo en op tye wat hulle pas, deur die leermateriaal te werk.”
Hoe dit werk
Die e-leerplatform word as ’n eenjaarlisensie aan wynondernemings beskikbaar gestel, en die koste wissel na gelang van die aantal werknemers wat per instansie geregistreer word.
Indien ’n plaas of kelder daarin belangstel om ’n span vir die e-leer-platform aan te teken, kan die spanleier of plaasbestuurder e-pos na lms@winetech.co.za stuur. Hierna sal ’n opleidingsverteenwoordiger hulle kontak om die registrasieproses te verduidelik en ’n datum vas te stel vir ’n fisieke “lei die opleier op”-sessie, waartydens ’n Vinpro-kundige hulle wys hoe die stelsel werk en hoe die spanleiers en spanne saam die opleiding op die doeltreffende manier kan benut. Spanleiers kan dan hul spanlede op die stelsel laai, waarna elkeen toegang tot die e-leer-platform deur ’n slimfoon of rekenaar sal verkry en die wingerdspanne met hul nuwe opleidingsreis kan begin.
Spanleiers dien dus as opleiers wat hul eie wingerdwerkers se leer onder begeleiding van die Vinpro-opleidingspan fasiliteer. Spanleiers sal ná die suksesvolle afhandeling van die eerste groep werkers se opleiding by die SA wynbedryf se professionele liggaam, SAWIPB, as wingerdwerkervoormanne met spesiale status en erkenning geregistreer word.
Buiten die leermateriaal en video’s waardeur spanne saam of op hul eie kan werk, kan individue ook kort toetse oor elke onderafdeling binne ’n module voltooi sodat hulle en hul spanleier tred kan hou met hul vordering. Elkeen wat ’n module suksesvol voltooi met ’n assessering van bo 80%, ontvang ’n e-sertifikaat wat hulle kan aflaai of op hul profiel hou as hulle dit later nodig het.
. Besoek www.skillogical.com/winetech of kontak Kachné Ross by tel 021 276 0450 of kross@ winetech.co.za vir nog inligting.





