“Om met ’n mes gedreig te word en jy weet jy het geen wegkomkans nie, is die mees vreesaanjaende gevoel ooit.”
Só beskryf die 17-jarige Melisja Matthews van Robertson die gevoel nadat sy verlede Maandag in Hoopstraat met ’n mes gedreig en van haar selfoon beroof is.
Matthews het van haar vriendin se huis in Hanistraat af teruggeloop na haar ouerhuis in die Wolwekloof-omgewing net buite die dorp toe ’n man haar van agter af verras en gedreig het hy sal haar keel “morsaf sny” as sy nie aan sy eise voldoen nie.
Die man, met ’n bruin gelaat, is waarskynlik in sy vroeë 20’s. Hy het haar beveel om saam met hom tot by die afdraai na die volgende straat te stap.
“Hy het net gesê ek moet saam met hom loop. Ek het gedink ek gaan dalk verkrag word en het heeltyd gebid dat die polisie dalk sal verbyry of iemand my sal help. Ek het begin stap met hom agterna. Hy het net geskree ek moet stop toe ons by die groot boom naby die kerk kom. Hy het gesê ek moet my sakke leegmaak en alles gee wat ek het. Ek was nog nooit so bang nie,” verduidelik Matthews.
Matthews het haar selfoon vir die man gegee, maar gevra of sy haar geheuekaart kan hou.
“Ek wou net my foto’s graag hou. Die man wou eers nie, maar het toe ingestem. Hy het die foon gevat en ook my armbandjie wat my tannie vir my gekoop het. Ek het darem niks anders by my gehad nie,” voeg sy by.
Sy is tans ’n leerder by ’n skool in Bonnievale, maar kuier vakansies by haar ouers in Robertson en woon dan in die week by haar tannie.
“Ek voel nou onveilig in Robertson. Dit is my dorp. Ek is lief vir die dorp, maar ek is nou baie bang.”
Matthews sê hulle het nie die klagte aangemeld nie, aangesien sy vrees vir die moontlike gevolge.
“Wat as hy terugkom? Wat as hy my dan teiken? Mense kan wreed wees. Ek wil net aangaan met my lewe.”
Gazette het egter van ’n soortgelyke voorval verneem waar nog ’n skolier van Robertson dieselfde oorgekom het.
Gazette het na die ouers uitgereik nadat die leerder se ma ’n skrywe op Facebook geplaas het waarin sy vertel het haar dogter is deur ’n man in die dorp beroof en gedreig.
Volgens die ouers is hul dogter baie getraumatiseerd nadat sy van haar selfoon beroof is.
Dit is onbekend of hulle ’n klagte by die plaaslike polisie aangemeld het.
In ’n vorige berig wat Gazette gepubliseer het, het die Robertson-polisie beklemtoon dat ’n aktiewe poging reg deur die gemeenskap aangewend gaan word om meer sigbare polisiëring te bewerkstellig, maar die klem lê daarop dat mense wat die slagoffers van misdaad is, die voorval by die plaaslike polisiekantoor moet aanmeld.




