Sportspanne van Malmesbury sal bly wees om te sien dat die ligte by die Wesbank-sportterrein weer herstel is.

Die Wesbank-sportterrein het verlede jaar erg onder vandale deurgeloop. Die spreiligte, wat dit moontlik maak vir sportspanne om in die aande te oefen, is heeltemal beskadig.

Swartland-munisipaliteit se elektriese afdeling het onlangs dié ligte herstel. Die herstelkoste van die ligte beloop tans R458 246. ’n Verdere R45 000 sal nog bestee word om die terrein se beligting ten volle te herstel. Die werk wat tot dusver gedoen is sluit die herstel van die toevoer na die torings, die vervanging van sewe van die 1 kilowatt LED-spreiligte, die herstel van die CCV-kameras, die opgradering van sluitmeganismes en die vervanging van die beheerkaste binne die torings, in.

“Met die herstel van hierdie ligte doen ek, namens die munisipaliteit en namens die Raad, ’n ernstige beroep op die inwoners van Malmesbury en Wesbank om eienaarskap te vat van hierdie sportfasiliteite en nie toe te laat dat vandalisme dit weer lam lê nie,” het burgemeester Harold Cleophas gemaan. “Daar is eenvoudig nie geld om die ligte weer te herstel nie. Inwoners moet eienaarskap neem van openbare geriewe en ons help om dit te beskerm. Ek doen ook ’n beroep op ons plaaslike sportklubs om saam met ons te werk en verantwoordelikheid te vat en die nuut herstelde fasiliteit op te pas.

“Moenie ander pad kyk wanneer mense kabels steel of infrastruktuur beskadig nie. U as inwoner betaal daarvoor en lei direk daaronder.”

Inwoners word daaraan herinner dat vandalisme en die beskadiging van enige munisipale infrastruktuur ’n kriminele oortreding is, en word aangemoedig om vandalisme aan te meld.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article