Die twee Domino-verenigings Langeberg en Landelik van die Langeberg-streek hou Saterdag 5 November om 09:00 hul jaarlikse Henry Jansen-dagtoernooi by die Madeba-saal Graham Beck.
Die dag is ’n inisiatief waarmee hulle in 2021 begin het en nou ’n jaarlikse instelling in samewerking met die Langeberg-munisipaliteit en die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit is.
“Die Domino-verenigings gebruik die dag om die Jansen-familie te bedank dat hulle ons toelaat om so ’n besonderse man te vereer vir wat hy vir die domino-sport gedoen en beteken het,” het Winston Karelse, die Langeberg vereniging se voorsitter, gesê.
Volgens Karelse is besluit om die kompetisie te verander om al die klubs deel van die dag te maak. Hy noem ook dat die twee verenigings oor die jare baie gegroei het met jong spelers wat aangesluit het. Hy sê hulle wil hierdie jaar meer blootstelling aan die jeug gee om sodoende te wys watter groot verskil dit in die lewe van jeugdiges kan maak.
Vir meer inligting oor die dag kan Winston Karelse by 071 203 0840 (Langeberg) of Andries Baardman (Landelik) by 076 0709 252 gekontak word.





