Die bekende Weskus- Goue Spele vir mense ouer as 60 jaar is hierdie jaar weer in Moorreesburg gehou.
Die Goue Spele, wat deur die Weskus-distriksmunisipaliteit (WDM) gekoördineer word, word in vennootskap met plaaslike munisipaliteite en ander staatsentiteite aangebied.
As gevolg van die Covid-19-pandemie kon hierdie sport- en ontspanningsdag vir bejaardes nie in 2020 en 2021 plaasvind nie en was die deelnemers almal oorgehaal om weer aan die spele deel te neem.
Hierdie projek is deel van die munisipaliteit se sosiale programme wat geleenthede vir gemeenskappe skep.
Boffie Strydom, die burgemeester van die WDM, het gesê die Goue Spele bied die geleentheid aan ouer mense in gemeenskappe om ontspanning en sport te beoefen asook om aktief te wees.
“Julle is die eregaste hier vandag. Sonder die bejaarde groepe en sonder deelnemers kan die dag nie plaasvind nie. Geniet die dag, maak nuwe vriende en wees deel van die genot wat die dag inhou,” het Strydom in sy openingstoespraak gesê.
Die oudste deelnemer by vanjaar se byeenkoms was Elsie Willemse (88) van die Burgersnessie Bejaardes-groep in Porterville.
Die dag is ook bygewoon deur Ray van Rooy, die burgemeester van die Bergrivier-munisipaliteit, raadslede en amptenare van munisipaliteite in die Weskus, asook regeringsamptenare.





