Die Gedigtefees in McGregor is die afgelope dekade as een van die mees gewilde literêre feeste in Suid-Afrika gevestig.
Die fees word vanjaar van 18 tot 20 November in McGregor met die tema “Die Wildernis in” aangebied.
Die stigter van die fees, Billy Kennedy, sê: “Vanjaar kyk ons terug na die wonderlike reis sover. Tien jaar is vir ons ’n baie spesiale mylpaal om te vier! Ons is dankbaar dat so baie digters en woordliefhebbers ons visie oor die jare met uitbundige passie en vrygewigheid ondersteun het. Die fees word weer vanjaar by Temenos as anker vir die naweek se verrigtinge aangebied. Ek hoop dit wat ons hier geskep het, sal diegene wat die naweek saam met ons kom geniet, inspireer om saam met ons op die voetpaadjies van die woordkuns te bly loop sodat ons deur poësie ons rol as bewaarders van die innerlike en uiterlike wildernis heelhartig bly uitleef.”
Vanjaar se fees bestaan uit 65 aanbiedinge, wat ’n ook paar oop-mikrofoon-sessies insluit vir dié wat spontaan hul gedigte wil kom deel.
Antjie Krog, Wendy Woodward, Ian McCallum, Harry Owen, Ilze Olckers, Jacques Coetzee, Kobus Moolman, Ilze Olckers, Archie Swanson, Stephen Symons, Lara Kirsten, Sue Woodward en Diana Ferrus (saam met Die Mengelmoes Digters), is deel van die lang lys indrukwekkende digters wat vanjaar op die program is. Daar is ook `n spesiale “overlaying” deur John Maytham van ’n geskrewe teks van Finuala Dowling, geïnspireer deur vanjaar se feestema. Nuwe stemme soos Nondwe Mpuma, Lisa Julie en Jadrick Pedro verteenwoordig die groeiende skatkis van woordkuns-talent in ons land.
Gedigte in Afrikaans en Engels van die jaarlikse gewilde alternatiewe zine Ons Klyntji sal voorgelees word deur Sindiswe Busuku, Tom Dreyer, Churchil Naudé, Curtley Jones, asook twee van Ons Klyntji se redakteurs, Toast Coetzer en Alice Inggs.
Elf boekbekendstellings gaan ook oor die naweek gevier word. Douglas Reid Skinner, Willem Fransman Jr., Christine Coates en The Phoebe Book of Poems for Children, saamgestel deur Patricia Schonstein, is onder meer op die program vir nuwe bekendstellings. Die Poetry in McGregor 2021 Anthology word ook bekendgestel. Dit is een van die jaarlikse hoogtepunte op die feesprogram.
Die Jeugprogram sal kuns, fotografie en gedigte-werksessies vir ongeveer 90 leerders ’n week voor die feesverrigtinge begin, aanbied. Dit sluit graad 1 tot graad 12-leerders van McGregor Fountain Waldorf Skool, McGregor Primer, en McGregor College in.
Die volle program is op die webtuiste: https://poetryinmcgregor.co.za/
Bespreek kaartjies by Quicket.
Kontak info@tourismmcgregor.co.za of 023 625 1954 vir verblyf.
Instagram: @poetry_mcgregor
Facebook: https://www.facebook.com/McGregorPoetry



