Die rooi tapyt is vir die gaste by die amptelike oorhandiging van die Pietie Fredericks-jeugsentrum uitgerol.

Credit: SYSTEM

Fase een van die langverwagte Pietie Fredericks-jeugsentrum in Piketberg is verlede Maandag amptelik aan die Bergrivier-munisipaliteit oorhandig.

PCC De Hoek het die oorhandiging op 31 Oktober behartig.

Die burgemeester, Ray van Rooy, het by die geleentheid genoem jeugontwikkeling is ’n sleutelkomponent in die munisipaliteit se visie om “ ’n voorspoedige gemeenskap te skep, waar almal op ’n waardige manier wil woon, werk, leer en speel”.

“Die toekoms van Bergrivier is in ons kinders se hande,” het hy gesê.

“Die belangrikheid daarvan om in ons jeug te belê, kan nie oorbeklemtoon word nie en ek glo sterk dat hierdie geriewe ’n stewige grondslag sal skep vir jongmense om te leer, te groei en tot gemotiveerde, verantwoordelike, bekwame en indiensneembare burgers en leiers te ontwikkel.”

Wyle Pietie Fredericks, na wie dié sentrum genoem is, het vir jeugontwikkeling geveg en dié fasiliteit is ter ere van sy nalatenskap opgerig.

Van Rooy het PPC bedank vir die maatskappy se volgehoue en ??betekenisvolle bydrae binne die munisipale gebied, asook alle ander rolspelers wat plaaslik ’n verskil maak om gehalte tot jong mense se lewe by te dra. Hy het die jeug aangemoedig om voordeel te trek uit die aanbiedinge wat sal voortspruit uit die aktiwiteite by die Pietie Fredericks-jeugsentrum en inwoners aangemoedig om eienaarskap van hierdie gewaardeerde gemeenskapsbate te neem.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article