Nie eens ’n skitterbeurt van 93 lopies (nie uit nie) deur die Hexvallei-kolwer Jakobus Plaatjies kon verhoed dat sy span die onderspit teen die Montagu-krieketklub delf nie.
Montagu het slegs 25 beurte van dié 50 boulbeurt- derde liga-krieketwedstryd van die Boland-krieketunie benodig om die wedstryd te wen.
Hexvallei het eerste gekolf en in sy 50 boulbeurte 185 lopies vir die verlies van nege paaltjies aangeteken.
Die enigste ander kolwer in Hexvallei se kolfbeurt wat dubbelsyfers kon aanteken, was Appolis Dempers met 15 lopies.
Die bouler van Montagu wat die meeste skade in Hexvallei se kolfbeurt aangerig het, was John-Wesley van Wyk. Hy het in tien boulbeurte, waarvan drie leeg was, drie paaltjies vir 29 lopies laat kantel. Mario Pietersen (1/6) en Peter-James van der Berg (1/21) was die ander Montagu-boulers wat paaltjies platgetrek het.
Montagu het daarna gaan kolf en die wentotaal (186 lopies) binne 25 boulbeurte gemoker.
Die veelsydige John-Wesley het ’n 50-tal behaal. Hy het 52 lopies geslaan, terwyl Ryan Anderson 40 lopies (nie uit nie) aangeteken het.
Dié twee is goed deur hul kaptein, Salahuddin Davids, wat 38 lopies behaal het, ondersteun.
Montagu kom oor twee weke (Saterdag 10 Desember) op die King Edward-sportterrein teen Touwsrivier te staan.



