Vanjaar is dit 30 jaar sedert Suid-Afrika in 1992 na internasionale rugby teruggekeer het.

Om hierdie herdenking te vier, het die Sondagkoerant Rapport vanjaar met die hulp van ’n paneel kenners die top-30-Bokke van die afgelope 30 jaar aangewys.

Die dokumentêre reeks Drie dekades se beste Bokke met Rapport word van Maandag 19 Desember om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai, waarin hulde aan dié top-30 Springbokrugbyspelers gebring word.

In elkeen van die een uur lange episodes sal gekyk word na tien Springbok-rugbyspelers se loopbane.

Die reeks bestaan uit altesaam drie episodes.

“Die 30 Springbokke is deur ’n uitgelese paneel, saamgestel deur Rapport, gekies,” sê Dawie Boonzaaier, ’n Rapport-joernalis en sameroeper van die paneel. “Die paneel bestaan uit vier voormalige Bok-afrigters, twee huidige Bok-hulpafrigters, twee voormalige Bok-kapteins en van die land se voorste rugbyskrywers. Hulle is gevra om die beste Bokke op ’n ranglys te plaas en só het ons by die top-30 uitgekom.”

Die lede van dié paneel was die oud-Bok-afrigters Jake White, Peter de Villiers, Nick Mallet en Carel du Plessis; die voormalige Springbokke Errol Tobias, Wynand Claassen en Theuns Stofberg; die Bok-hulpafrigters Mzwandile Stick en Deon Davids; die voormalige Cheetah-afrigter Peet Kleynhans; die joernaliste Hendrik Cronjé, Leighton Koopman, Bokkie Gerber, Vata Ngobeni, Simnikiwe Xabanisa en Brenden Nel; en die rugbyhistorikus Albert Heenop.

Albert Weidemann van Rapport was saam met Dawie Boonzaaier die sameroepers.

Daar is genoeg aksie om alle Springbok-ondersteuners vasgenael te hou, sê die regisseur van die reeks, Frankie Opperman.

“Ons het saam met Rapport en SuperSport gewerk om die beste foto’s en videomateriaal uit die argiewe te gebruik,” sê hy. “Verder het ons ook by die Ellispark-rugbymuseum en Ruck & Maul in Stellenbosch verfilm. ’n Baie spesiale element in die reeks is die fantastiese paneel kenners met wie ons onderhoude gevoer het. Elkeen deel sy mening en herinnerings van elkeen van die 30 Springbokke.”

Die kennerspaneel met wie onderhoude gevoer is, bestaan uit die voormalige Springbokke Breyton Paulse, Jannie du Plessis, Jean de Villiers, Krynauw Otto, Naas Botha, Werner Swanepoel en Wynand Claassen; die skeidsregter Jaco Peyper; die voormalige skakelbestuurder van die Springbokke, Annelee Murray; die voormalige Springbokafrigter Peter de Villiers; die joernaliste Hendrik Cronjé, Simnikiwe Xabanisa en Leighton Koopman; en die TV-aanbieder Janina Oberholzer. . Die eerste van drie episodes van Drie dekades se beste Bokke met Rapport word Maandag 19 Desember om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article