Rokers het hul asem opgehou toe die Wetsontwerp op Beheer van Tabakprodukte en Elektroniese Afleweringstelsels in April 2018 vir openbare kommentaar gepubliseer is.
Hiérdie asems moes strek tot September vanjaar toe die wetsontwerp se kommentaar-tydgleuf gesluit en dit voor die parlement verskyn het, waar dit tans nog bestudeer word.
’n Tweede asem word immers ingehou totdat die finale weergawe in 2023 in die Staatskoerant gepubliseer sal word.
Intussen kon Suid-Afrikaners ’n voorsmakie kry op wat voorlê, en dit sal baie rokers, insluitend damprokers – rokers wat tot nou toe verskeie vryhede kon geniet – aan hul asem laat stik.
Die algehele Wetsontwerp op Beheer van Tabakprodukte en Elektroniese Afleweringstelsels gaan strenger reëls toepas en sodoende damprokers strenger beheer.
Volgens die wetsontwerp sal die groter beperkings op die binnenshuise gebruik van sigarette en elektroniese sigarette toegepas word en eenvoudiger advertensiemetodes aanmoedig.
Nóg ’n groot verandering in die konsepwet sal ook die verkoop van sigarette én elektroniese sigarette by outomatiese verkoopmasjiene verban.
Wat sê die voorgestelde wet oor damprook?
’n Deel van die nuwe Wetsontwerp op Beheer van Tabakprodukte en Elektroniese Afleweringstelsels is om damprooktoestelle, wat tot nou onder ’n grys area gefunksioneer het, onder strenger regulasies te plaas — ’n aspek wat teenstrydige opinies meebring met die nasionale gesondheidsdepartement wat dit aanraai, en die tabakbedryf sowel as verbruikers daarvan, wat teëskop.. Damprokers sal verbied word om in enige binneshuise openbare plek, asook sommige opelug- openbare ruimtes, te rook.. Die gebruik van elektroniese sigarette in die teenwoordigheid van kinders jonger as 18 sal verbied word.. Aanlyn verkope sal, net soos vir tradisionele sigarette, vir elektroniese sigarette verban word.. Elektroniese sigarette, sowel as die vloeistof wat vir die toestelle gekoop moet word, sal strenger belas word en stel ’n bedrag van R2,91 belasting per milliliter voor.
Volgens Sandra Maritz, ’n woordvoerder van die Kaapse Wynland-gesondheidsdepartement, word dié manier van rook ontmoedig weens die skadelike impak wat dit in die lang termyn inhou.
“Dit is moontlik dat damprook net so skadelik soos gewone sigarette is omdat dit skadelike chemiese middels bevat,” volgens Maritz.
Die Kaapse Wyland- gesondheidsdepartement het ook klagtes ontvang van mense wat aanmeld dat die rookdampe hul keel en oë aantas.- Jana Scheepers
. Bronne wat vir hierdie berig gekonsulteer is, sluit in Business Insider, City Press, EWN, en Business Tech.




