Bonnievale -wyne het die afgelope dae, in wat reeds ’n rekordjaar van bekronings is, nóg twee pryse van twee voorste kampioenskappe gewen, naamlik die Gilbert & Gaillard International Challenge en die Platter’s South African Wine Guide.
Gilbert & Gaillard het goud aan beide die Bonnievale Limited Release Cabernet Sauvignon 2020 en The River Collection Sauvignon Blanc 2022 toegeken. Dieselfde oesjaar se cabernet sauvignon is met ’n vierstergradering van die Platter-wyngids beloon, wat ook vier sterre aan die Bonnievale Limited Release Chardonnay 2021 toegeken het.
Hierdie eerbewyse volg pas nadat die 2022-oesjaar se sauvignon blanc ook as een van die topwyne by vanjaar se FNB- Sauvignon Blanc SA Top-10-kompetisie vereer is. Die Gilbert & Gaillard-paneel het hierdie wyn weer as “ryk, vol en elegant” beskryf.
Die cabernet sauvignon, het die paneel gesê, het ’n “beleë neus” terwyl dit ryk, sag, geïntegreerd en elegant is met ’n goeie lengte op die palaat.
Gilbert & Gaillard is ’n belangrike maatstaf vir wynkelders as die uitgewer van ’n aanlyn gids oor wyn in Frankryk, een van die wêreld se oudste en bekroonde wynprodusente en 22 ander lande.
Plaaslik is Platter’s Suid-Afrika se oudste wyngids met een van die mees hoog aangeskrewe proe-panele.
Volgens Platter’s se kenners vertoon die vierster- Limited Release Cabernet Sauvignon kenmerke van “soet kersie met sweempies van skerpgemaakte potlood en blaaragtigheid”.
Die 18 maande wat die wyn in 90%-nuwe eikehoutvate deurgebring het, dra volgens die paneel by tot ’n “roosterbrood-geur in die agtergrond”. Die wyn vertoon ook “bevredigende droogheid en lengte” en “sappige tanniene”.
Wat die vierster- Limited Release Chardonnay betref, het die paneel gesê die wyn vertoon geurelemente van ryp lemoen en “ ’n oorvloed van nartjie, wat goed balanseer met ’n aangename suurheid en behendige gebruik van eikehout”.
Die algehele indruk was dat dit ’n “heerlike droë” wyn is.
Hierdie wenwyne is landwyd beskikbaar en kan by Bonnievale se aanlyn winkel bestel word by www.bonnievalewines.co.za. . Vir nog inligting oor Bonnievale Wines, skakel 023 616 2795 of stuur ’n e-pos-navraag na info@bonnievalewines.co.za.




