Indien jy en jou gesin vir vanjaar se Kersvakansie met Jan Tuisbly se karretjie ry, hoef jy nie bekommerd te wees oor hoe om die jonger garde besig te hou nie.
Die Langeberg- en Breedevallei distrik bied talle bekostigbare avonture vir oud en jonk aan, en die beste van alles is – dit is op jou agterstoep.
Buitelugaktiwiteite sluit in:. Die Vrolijkheid-natuurreservaat naby Mcgregor bied piekniekplekke waar die hele gesin in die buitelug kan ontspan, en die plaaslike fauna en flora geniet. Nog inligting is beskikbaar by capenature.co.za/reserves/vrolijkheid-nature-reserve. Montagu bied verskeie staptogte aan, wat wissel van twee tot 16 kilometer, en is geskik vir die hele gesin met uitsigte oor die Langeberge. Nog inligting is beskikbaar by montagu.org.za/what-to-do/hiking-trails/. Die Nerina-gasteplaas (nerinaguestfarm.com) buite Robertson bied perderitte op die plaas met een- of een-en-’n-half-uur-opsies aan, terwyl Horse About (horseabout.co.za) ook perderitte op die R46 tussen Tulbagh en Wolseley aanbied.. Viljoensdrift is naby Ashton geleë, en bied besoekers die geleentheid om die Breederivier op ’n riviervaart van 60 minute te verken. Daarna kan verversings op die rivieroewer geniet word, wat mense by die deli kan koop. Nog inligting is by viljoensdrift.co.za beskikbaar.. Besoekers kan ook ’n gratis stappie deur die Krans-natuurreservaat in Mcgregor geniet. Die 1-km-stappie sal jou ook na damme wat bo die dorp geleë is en ’n uitsig van die plaaslike fauna en flora bied, neem. Hierdie staptog word nie op enige webblad beskryf nier, maar nog inligting daaroor is by die dorp se toerisme-blad beskikbaar.. Die Eseltjiesrus-donkie-rehabilitasiesentrum buite McGregor bied die jonger garde die geleentheid om ’n vriendelike dier ’n drukkie te gee en verversings by die koffiewinkel te geniet. Toegang is gratis en net ’n vrywillige skenking word gevra. Nog inligting is op Facebook beskikbaar.. Ceres Zipline Adventures bied nog ’n bekostigbare avontuur aan teen R500 per avonturier, wat agt glybeurte insluit. Die webtuiste by ceresadventures.co.za het nog inligting.. Die Matroosberge-natuurreservaat bied ’n geleentheid vir die hele gesin om in rotspoele te ontspan met verskeie stap- en fietsry -roetes wat na mooi uitsigte lei. Bersdoek www.matroosberge.com vir inligting.. Karoo Botaniese Tuine buite Worcester is sewe dae per week oop, en bied ’n geleentheid vir besoekers om pieknieks op die gras te geniet, die plaaslike plantegroei te aanskou, of teen ’n billike toegangsprys van R40 vir volwassenes en R15 vir kinders en skoolleerders by die restaurant te gaan geniet.. Excelsior-wynplaas buite Ashton is geskik vir ontspanning, en maak voorsiening vir volwassenes met drink- en eetgoed, terwyl kinders op die klimraam kan baljaar. Nog inligting is beskikbaar by excelsior.co.za. Nog ’n wynplaas wat iets vir jonk en oud bied, is Van Loveren met tuine vir kinders om in te speel, en ’n bistro wat sappige etes vir die hele gesin bedien.



