Die matriekklas van 2022 se uitslae, wat verlede Vrydag (20 Januarie) ná ’n lang wag uitgereik is, het gestyg.
Talle 2022-matrieks het die pad na hul verskeie skole aangepak en hul matriekuitslae, wat die pad na die grootmens-wêreld vir hulle open, met opwinding afgehaal.
Die Wes-Kaap het ’n effense styging in die slaagsyfer getoon met 81,4% teenoor 81,2% in 2021.
Altesaam 70 skole het ook ’n slaagsyfer van 100% behaal, en agt skole se matrieks 100%- universiteitstoelating verkry.
Ten spyte van hierdie mylpaal is die matriekuitslae vir die Kaapse Wynland nie te waffers nie, en die streek het die laagste slaagsyfer in die Wes-Kaap getoon – net 77% – volgens David Maynier, die LUR vir onderwys.
Die departement is verheug dat die Wes-Kaapse 2022-matriekklas die provinsiale matriekslaagsyfer tot 81,4% laat styg het, met 49 102 kandidate wat geslaag het – die grootste aantal suksesvolle kandidate wat die provinsie nóg gehad het.
“Belangriker nog – elkeen van ons suksesvolle kandidate het ’n matriekslaagsyfer ontvang wat hulle in aanmerking bring om by universiteite of kolleges aansoek te doen. Dit beteken byna 50 000 jongmense is nou gereed om die volgende stap in hoër onderwys en vaardigheidsontwikkeling te neem,” het Maynier gesê.
In die Langebergstreek is die Hoërskool Bonnievale veral trots met sy 100%-slaagsyfer vir die tweede agtereenvolgende jaar.
Téo Mouton, dié skool se topleerder, het 80,7% en vier A’s behaal.
Die Hoërskool Montagu het ook skoonskip gemaak en verskyn op die lys van top-wiskundeskole in die Wes-Kaap. Franco de Kock is die toppresteerder met 93,42% en agt A’s.
Die Hoërskool Robertson het ’n 98%-slaagsyfer en sy topleerder, Jean-Mari Terblanche, het 92,7% behaal.
Die groter Langeberg se matriekuitslae is as volg:. Die Hoërskool Bonnivale: 100% met 83,3%-universiteitsvrystelling.. Die Hoërskool Montagu: 100% met 75,7%-universiteitsvrystelling.. Die Hoërskool Robertson: 98% met 84,8%-universiteitsvrystelling.. Waldorf in McGregor: 90% met 60%-universiteitsvrystelling.. Ashton Sekondêre Skool:76,2% met 20%-universiteitsvrystelling.. Ashton Combined Public School: 66% met 12,8%-universiteitsvrystelling.
Die distrikslaagsyfer is as volg:. Kaapse Wynlande: 77,47%. Eden en Sentraal-Karoo: 83,44%. Metro-sentraal: 83,89%. Metro-oos: 78,29%. Metro-noord: 85,46%.. Metro-suid: 78,48%. Overberg: 83.87%. Weskus: 78,89%
Maynier het leerders herinner dat aansoek gedoen kan word om aanvullende eksamens te skryf of hul antwoordstelle te laat oormerk.
Die name van die topskole in die provinsie sal op 2 Februarie aangekondig word.



